Wêreldbeker se datum skuif ná protes oor hitte

‘n Kunstenaarsvoorstelling van Katar se hoofstadion wat gebou gaan word.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van Katar se hoofstadion wat gebou gaan word.

Die wêreld-sokkerbeheerliggaam, Fifa, het onder druk kopgegee en gelas dat die 2022 eindtoernooi vir die eerste keer in die noordelike winter gespeel kan word.

Die internasionale vakbond vir sokkerspelers het met ‘n boikot van die toernooi gedreig wat in Katar gehou word as die toernooi in die somer sou plaasvind. Temperature styg gereeld tot 50 grade en hoër in hierdie olieryke woestynstaatjie.

Daar was selfs sprake dat dié skatryk land sy sokkerstadions met lugverkoeling sou toerus, maar die kritici het daarop gewys dat dit onmoontlik sou wees om die hele land te lugverkoel. Die spelers en ondersteuners sou steeds by tye aan ondraaglike hitte blootgestel wees.

Tradisioneel vind die toernooi in die noordelike halfrond altyd in die somer, en in die suidelike halfrond soos in Suid-Afrika die geval was, in die winter plaas.

Jérôme Valcke, Fifa se sekretaris, het Woensdag bekend gemaak dat die toernooi nou tussen 15 November 2022 en 15 Januarie 2023 moet plaasvind. Die verskuiwing van datums beteken dat die tradisionele speeltyd van verskillende ligas nou vir 2022 aangepas moet word. Vanjaar se eindtoernooi word in Brasilië gehou, en die toernooi van 2018 word in Rusland gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.