Wêreldleiers bring hulde aan Nelson Mandela

President Barack Obama

President Barack Obama

Die Amerikaanse president Barack Obama het sy medelye aan president Jacob Zuma betuig na die afsterwe van oudpresident Nelson Mandela.

Mandela is Donderdagaand omstreeks 20:50 in die ouderdom van 95 jaar by sy huis in Houghton, Johannesburg oorlede. “Die sterk en historiese vennootskap tussen die Verenigde State en Suid-Afrika sal voortgaan om krag te trek uit Mandela se nalatenskap terwyl ons saamwerk ten einde gelykheid, versoening en menswaardigheid te bevorder, en ‘n meer regverdige en voorspoedige wêreld te bou, “het die Withuis in ʼn verklaring gesê. Obama het beveel dat vlae by die Withuis en ander openbare geboue halfstok moet hang.

Xi Jinping, president van China, het Mandela se “historiese bydrae” tot Suid-Afrika en die wêreld geloof. “Mnr. Mandela was ʼn wêreldbekende staatsman. Met moeilike en buitengewone pogings het hy die mense van Suid-Afrika tot sukses gelei in die stryd teen apartheid en daardeur het hy ‘n historiese bydrae tot die ontstaan en die ontwikkeling van ‘n nuwe Suid-Afrika gemaak,” het hy gesê. Manmohan Singh, eerste minister van Indië, het Mandela geloof as ʼn “ware Gandhian” en gesê hy sal voortgaan om toekomstige generasies te inspireer na sy dood.

Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die VN, het Mandela as ʼn “reus vir geregtigheid” beskryf. “Talle regoor die wêreld is deur sy onbaatsugtige stryd vir menswaardigheid, gelykheid en vryheid beïnvloed. Hy het ons lewens in ʼn baie persoonlike manier aangeraak.” David Cameron, Britse premier, het gesê: “’n Groot lig het uitgegaan in die wêreld. Nelson Mandela was ‘n manjifieke figuur in ons tyd, ‘n legende in die lewe, en nou in die dood – ‘n ware wêreldwye held.”

Goodluck Jonathan, president van Nigerië, het Mandela beskryf as “een van die mensdom se grootste bevryders.” Dilma Rousseff, president van Brasilië, het gesê: “Die voorbeeld van die groot leier sal diegene lei wat vir maatskaplike geregtigheid en vrede in wêreld veg.”

Bill Gates, die stigter van Microsoft, sê hy en sy vrou is persoonlik deur Mandela geïnspireer. “Elke keer wat ek en Melinda vir Nelson Mandela ontmoet het, was ons meer geïnspireerd as ooit. Sy genade en moed het die wêreld verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.