Wêreldrenosterdag gevier

Dis vandag Wêreldrenosterdag, en vanjaar se tema is Vyf renosterspesies vir altyd! Wêreldrenosterdag word van 2010 af jaarliks gevier om die publiek bewus te maak van die lot van renosters wat deur stropers afgemaai word.

Suid-Afrika, wat nou die grootste bevolkings van die swart- en witrenosters huisves, word toenemend deur stropersindikate geteiken. In 2007 is slegs 13 renosters in die land gestroop, in 2008 was dit 83, in 2009 was dit 122, 2010 se syfer was 333 en verlede jaar was dit 448. Vanjaar is teen 3 September 373 renosters gestroop, waarvan 241 in die Krugerwildtuin.

Vanjaar is reeds 176 stropers, tien bodes en 17 kopers aangekeer.

Die WWF het Suid-Afrika onlangs in ‘n verslag ‘n geelkaart gegee oor sy hantering van bedreigde spesies. In die verslag loop veral Viëtnam deur as sondebok as bestemming vir renosterhoring, terwyl Thailand ‘n rooi kaart kry oor sy gebrekkige wetgewing en wetstoepassing om handel in olifanttande te keer. China kry ‘n geelkaart vir ivoorhandel.

Indië en Nepal kry groen kaarte vir hul bewaring van bedreigde spesies. Nepal word geloof omdat daar in 2011 geen voorvalle van renosterstropery in dié land aangemeld is nie.

Die verslag het gevolg terwyl ‘n groot deel van die wêreld se omgeebevolking nog die naarheid in is oor die nuus dat die laaste Javaanse renoster onlangs in Viëtnam gestroop is.

Ook die ander Asiatiese spesies se voortbestaan word ernstig bedreig, wat beteken dat die sindikate hul gierige oë op Suid-Afrika rig, waar wildboere daarin geslaag het om ‘n redelike witrenosterbevolking te bestendig.

Dit beteken ook dat die Indonesiese regering nog meer op hul hoede moet wees vir stropers, aangesien nog net 60 die Javaanse renosters in die Ujong Kulon-natuurresrvaat voorkom.

Ook van die ander lewende Asiatiese renosters is nie veel oor nie. Die Indiese renosters, wat soos die Javaanse renosters net een horing het, kom nog net op ‘n paar plekke voor, veral in die gebied tussen Indië en Nepal. In die natuur tel hul getalle sowat 3 000.

Van die kleiner Sumatrarenoster, wat soos sy Afrika-soortgenote twee neushorings het, is nog net ‘n geraamde sowat 275 oor.

Wat renosters in Afrika betref: die getalle witrenosters wat nog oor is, lyk heelwat beter as dié in Asië. Na raming is daar nog meer as 14 000 witrenosters oor. Dit is egter ook nie die volle verhaal nie – van die noordelike subspesie is waarskynlik geen oorlewendes in die natuur oor nie, en slegs enkeles in dieretuine. Onlangse berigte lui dat dit nie meer die geval is nie.

Swart renosters se getalle het sedert 1960 skerp afgeneem van sowat 70 000 tot nog net sowat 2 400 in 1995. Ook hier is die situasie nie heeltemal eenvoudig nie; van die vyf subspesies het een heeltemal uitgesterf, terwyl van die ander subspesies se voortbestaan ook ernstig bedreig word.

In Kenia se wildreservate word bedreigde subspesies letterlik deur spanne lyfwagte opgepas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.