Werkers staak vir kankerpasiënte by Durban-hospitaal

Een van die Varian Rapidarc Linear Accelerator-masjiene

Sowat 100 gesondheidswerkers het Vrydag buite Durban se Addington-hospitaal betoog weens twee van die hospitaal se radioterapiemasjiene wat vir vyf maande lank al buite werking is.

Die werkers eis ‘n verduideliking van Sibongiseni Dhlomo, die LUR vir gesondheid, in ‘n memorandum wat hulle aan ‘n beampte oorhandig het. “Hy moet die feite oor die hele Addington-radioterapiedebakel aan die lig bring,” het hulle in die dokument gesê.

Tecmed, die maatskappy wat die twee Varian Rapid Arc Linea Accelerator-masjien installeer het, en verantwoordelik is om hulle in stand te hou, het in Januarie dié diens gestaak. Die departement het glo nege maande vroeër opgehou om die maatskappy se instandhoudingskontrak te betaal. Die departement voer aan dat Tecmed die tender vir die twee masjiene op ‘n bedrieglike wyse bekom het.

Dhlomo het verlede maand aangekondig dat die departement die kontrak weer sal betaal en Tecmed het ‘n paar dae later die masjiene gediens. Dhlomo blameer glo Tecmed vir die masjiene se onvermoë om te werk. Hy glo die departement het ‘n sterk saak teen die maatskappy. Hy sê die betalings sal voortaan op ‘n maand-tot-maand basis geskied totdat die uitslag van die ondersoek bekend gemaak is, en totdat onderhandelings met Varian, die vervaardiger van die masjiene, afgehandel is.

Tecmed wat Varian se agent in Suid-Afrika is, ontken dat hulle enige fout begaan het.

Die departement sê hy het in Mei 2010 en Julie 2010 twee sake by die polisie ingedien teen Tecmed, maar dat die maatskappy nog nie aangekla is nie.

Die Gesondheid- en ander dienspersoneelvakbond (Hospersa) het Vrydag in die memorandum die departement aangekla dat hulle kankerpasiënte van hul behandeling ontneem, “wat veroorsaak dat sommige pasiënte van behandelbaar tot terminaal oorgegaan het”. “Dit is ‘n menseregte-oortreding wat deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ondersoek moet word.” Die vakbond sê die feit dat pasiënte van Addington op waglyste by Inkosi Albert Luthuli-hospitaal geplaas is, “is nie behandeling nie”.

“Die vakbond werk tans aan ‘n dokument wat hy by die MRK wil indien,” het Michelle Conolly, woordvoerder vir Hospersa, gesê.

Talle betogers het plakkate en baniere rondgeswaai. “Kanker maak dood, net soos ons regering,” het op een betoger se plakkaat gestaan. “Vra nou om verskoning LUR Dhlomo,” het ‘n ander gesê.

Die vakbond wil ook sien dat die departement die vakante poste vul en dat finansiële wanbestuur in die departement tot ‘n einde kom.

Lees ook:
Tweede onkoloog bedank glo oor stukkende masjiene

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.