Werkgewer versoek kandidaat se Facebook-wagwoord

Tydens Justin Basset se onderhoud vir ʼn nuwe pos, het hy die gewone vrae oor sy ondervinding en verwysings verwag. Hy was baie verbaas toe die onderhoudvoerder hom egter vir iets anders gevra het: sy Facebook-gebruikernaam en -wagwoord.

Bassett, ʼn statistikus in New York City, het pas ʼn paar vrae oor sy karaktereienskappe beantwoord toe die onderhoudvoerder haar na haar rekenaar gewend het om sy Facebook-profiel op te soek. Sy kon egter nie sy private profiel sien nie en het hom gevolglik sy aanteken-inligting versoek. Bassett het geweier en sy aansoek teruggetrek, en gesê dat hy nie vir ʼn maatskappy wil werk wat na sulke private inligting op soek is nie. Met die toename in die arbeidsmark sal voornemende werkgewers ander kandidate moontlik met dieselfde vraag konfronteer.

In ʼn poging om aansoekers te keur sal sommige maatskappye en regeringsinstansies nie bloot tevrede wees met ʼn blik op ʼn persoon se sosialenetwerk-profiele nie. Hulle sal die persoon se aanteken-inligting versoek om as die gebruiker self aan te teken.

“Dit is soortgelyk as om iemand se huissleutel te versoek,” het Orin Kerr, ʼn professor in die regte by die George Washington Universiteit gesê. Dié voormalige staatsaanklaer noem dit ʼn “uitermatige skending van privaatheid”.

Vrae oor die wettigheid hieroor word gevra wat ook die fokus op voorgestelde wetgewing in Illinois en Maryland sal plaas wat openbare maatskappye verbied om toegang tot sosiale netwerke te versoek. Sedert sosiale netwerke die lig gesien het, het dit algemene gebruik by bestuurders geword om publieke Facebook-profiele en Twitter-rekeninge na te gaan om meer oor die aansoeker te wete te kom. Talle gebruikers, veral dié op Facebook, het egter hul profiele as “privaat” gestel en kan dus net deur sekere persone of sekere netwerke opgespoor word.

Maatskappye wat nie vir wagwoorde vra nie, het ander stappe geneem. Voornemende werknemers sal dus versoek word om die menselikehulpbronbestuurder te “bevriend” op Facebook of om tydens ʼn onderhoud op ʼn maatskappyrekenaar aan te teken. Wanneer die persoon aangestel is, kan daar van sommige werknemers vereis word om ʼn ooreenkoms te teken wat die werknemer verbied om die werkgewer op sosiale media in ʼn negatiewe lig te stel.

Rusty Thomas, adjunkhoof van die sheriff se kantoor in McLean County, Illinois, sê dat onvanpaste foto’s of verhoudings met minderjariges of onwettige gedrag ʼn voornemende werknemer nadelig kan beïnvloed.

E. Chandlee Bryan, ʼn loopbaanmentor en medeskrywer van die boek The Twitter Job Search Guide, het gesê dat voornemende werknemers altyd bedag moet wees op dít wat op hul sosialemedia-rekeninge aangaan en aanneem dat iemand daarna kyk. Bryan sê sy is besorg dat maatskappye nou sover gaan om aantekenbesonderhede aan te vra, maar sy voel dit is nie ʼn oortreding indien ʼn werkgewer deur middel van ʼn vriendskapsversoek na ʼn Facebook-profiel wil kyk nie. Sy is ook nie besorg oor die ooreenkomste wat werknemers versoek word om te onderteken nie. “My gevoel is dat wanneer jy vir ʼn maatskappy werk, hulle jou in ruil vir jou werk ondersteun. As jy ontevrede is moet jy na hulle toe gaan en nie na ʼn sosiale netwerk toe nie.”

Facebook en Twitter het, ten spyte van herhaaldelike versoeke, nie op die nuus kommentaar gelewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.