Werklike getal belastingbetalers baie min

Aantal belastingbetalers in 2012-belastingjaar. Grafiek: SNI

Aantal belastingbetalers in 2012-belastingjaar. Grafiek: SNI

Feitlik die volle las van die Suid-Afrikaanse staat rus op die skouers van slegs enkele miljoene belastingbetalers, volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, sê daar is ʼn baie groter wanbalans tussen die aantal mense wat belasting betaal en die totale bevolking as wat algemeen geglo word. Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) was 13,7 miljoen mense in die 2012-belastingjaar vir persoonlike inkomstebelasting geregistreer.Uit hierdie groep het slegs 3,7 miljoen belastingbetalers 96% van alle inkomstebelasting betaal, terwyl 2,7 miljoen 90% betaal het en 1,7 miljoen vir 80% verantwoordelik was.

Joubert sê dit is ook belangrik om daarop te let dat diegene wat die meeste persoonlike inkomstebelasting betaal, ook verantwoordelik is vir die betaling van die leeueaandeel van al die ander tipes belasting soos BTW, maatskappybelasting, invoertariewe en belasting op brandstof. Maatskappybelasting is byvoorbeeld eintlik ʼn belasting op die eienaars en werknemers van maatskappye. Die aandeelhouers en werknemers van maatskappye is individue. Die opbrengs van die maatskappy se aktiwiteit sou hierdie individue toegekom het as dit nie aan maatskappybelasting afgestaan moes word nie. Voorts het die mense wat die meeste persoonlike inkomstebelasting betaal die meeste koopkrag en betaal hulle dus die meeste BTW en ander belastings op produkte en dienste.

Ten spyte daarvan dat 13,7 miljoen mense in die 2012-belastingjaar vir persoonlike inkomstebelasting geregistreer was, moes slegs sowat 5,9 miljoen mense belastingopgawes indien. ʼn Verdere geskatte 0,7 miljoen mense is belas sonder dat hulle belastingopgawes ingedien het. Uit die 13,7 miljoen geregistreerde persone was daar dus 6,6 miljoen mense wat enigsins as belastingbetalers gereken kon word. Voorts het ongeveer 2,9 miljoen mense slegs 4% van die totale persoonlike inkomstebelasting vir die jaar bygedra. Die oorblywende 3,7 miljoen mense het dus nagenoeg 96% van alle persoonlike inkomstebelasting betaal. Uit hierdie 3,7 miljoen het ʼn miljoen slegs 6% van persoonlike inkomstebelasting betaal. Wanneer hierdie miljoen mense van die totaal afgetrek word, bly slegs 2,7 miljoen belastingbetalers oor, wat vir sowat 90% van alle persoonlike inkomstebelasting verantwoordelik was. Wanneer hierdie 2,7 miljoen belastingbetalers ʼn laaste keer verklein word deur diegene wat R140 000 tot R200 000 belasbare inkomste gehad het, uit te sluit, bly 1,7 miljoen mense oor wat vir nagenoeg 80% van alle persoonlike inkomstebelasting verantwoordelik was.

Die SNI het Vrydag ʼn inligtingstuk oor die 2013/14-belastingjaar se skynverligting van belasting beskikbaar gemaak. Klik hier om dit af te laai. Die SNI sal in aanloop tot Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingsrede volgende week ’n reeks inligtingsblaaie beskikbaar maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.