Werkloosheidskoers styg, indiensnemingsyfers daal

Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse arbeidsmagpeiling wat vandag bekendgestel is, het die hoop op ’n volgehoue styging in totale indiensneming in Suid-Afrika verydel. Ná die skerp daling in 2009 tydens die resessie, het vlakke van indiensneming, ten spyte van ’n oplewing in ekonomiese groei, vir twee jaar feitlik konstant gebly. Volgens die vakbond Solidariteit is die daling van 75 000 mense wat in diens is teleurstellend, ondanks die rekordstyging in die derde kwartaal van 2011 en die daaropvolgende styging in die vierde kwartaal.

“Positiewe syfers is al sedert die derde kwartaal van 2011 deur Statistieke Suid-Afrika bekendgemaak, maar aangesien seisoenale faktore indiensneming altyd in die vierde kwartaal laat styg, moes daar tot vandag gewag word om te bepaal of die stygende tendens volgehou sou word,” het Paul Joubert, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), verduidelik.

Die amptelike werkloosheidskoers het in die afgelope kwartaal van 23,9% tot 25,2% gestyg en die breë werkloosheidskoers, wat ontmoedigde werksoekers insluit, het van 35,4% tot 36,6% gestyg. “Dit beteken dat byna vier uit tien Suid-Afrikaners wat graag wil werk, nie geskikte werk kan kry nie.”

“Daar is steeds sowat 421 000 poste minder as drie jaar gelede aan die begin van die resessie. Boonop neem die aantal Suid-Afrikaners van werkende ouderdom (15-64 jaar) jaarliks met byna 500 000 toe,” het Joubert gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.