Wes-Kaap-sakeman beboet oor bedrog

hofbevelBarend Pofadder (50), ʼn voormalige verkoopsman van ʼn maatskappy wat in industriële- en vervoerverkoeling spesialiseer, is Woensdag in ʼn Kaapstadse hof met R10 000 beboet of 12 maande tronkstraf gevonnis.

Pofadder is skuldig bevind op aanklag dat hy voorraad, wat hy uit ʼn pakhuis onder sy beheer gesteel het, en dat hy dit met vals fakture weggesteek het.

Pofadder, ʼn oupa wat sy werklose kinders versorg en wie se kleinkinders ook by hom bly, het in die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn. Op versoek van sy prokureur, T Ahmed, is hy uitstel gegun tot Junie volgende jaar om die boete te betaal.

Buiten die boete is hy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is en hy is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Hy het vir die maatskappy GEA Grenco Africa (Edms.) Bpk. gewerk.

Hy is skuldig bevind aan bedrog van R714 630 wat in Augustus 2010 plaasgevind het.

Staatsaanklaer Jacques Smith het ingestem dat ʼn direkte tronkstraf nie regverdig kan word nie en dat Pofadder die geleentheid gebied moet word om sy familie te versorg. “Maar as 50-jarige behoort hy die verskil tussen reg en verkeerd te ken en moes hy van beter geweet het,” het Smith gesê. Hy het bygevoeg dat die maatskappy voldoende verseker is teen diefstal en dat dit die maatskappy se verliese geminimaliseer het.

Sonnenberg sê Pofadder het geen verskoning vir dit wat hy aangevang het nie en dat hy deur hebsug gemotiveer is.

“Jy was gierig en het ontdek dat dit maklik is om verkoelingsprodukte uit die pakhuis te steel en dit dan aan kliënte te verkoop tot jou eie voordeel,” het Sonnenberg gesê. Sy sê kinders weet wanneer volwassenes iets verkeerd doen en dit beïnvloed hulle om dieselfde te doen. Sy sê Pofadder was bevoorreg om ʼn goeie inkomste te verdien en sy hoop dat die opgeskorte vonnis as ʼn doeltreffende afskrikmiddel sal dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.