Wetgewer: Sluit ‘haatkamp’

Die Mpumalanga provinsiale wetgewer het Woensdag ʼn mosie aanvaar vir die sluiting van die Kommandokorps se “haatkampe”.

ʼn Woordvoerder van die provinsiale wetgewer, Lebona Mosia, sê die DA se mosie is Woensdag aanvaar. “Ons ondersteun dit [die mosie] en stem saam dat die ding gesluit moet word.” Die DA se provinsiale leier, Anthony Benade, sê die mosie is ʼn “’n beslissende oorwinning in die stryd teen rassisme. Mpumalanga se polisiekommissaris, lt. Gen. Thulani Ntombela [is] versoek om alle wettige middele tot sy beskikking te gebruik om die kamp te sluit, hangende ‘n volledige ondersoek om vas te stel wat daar gebeur,” het Benadie in ‘n verklaring gesê.

Daar is verlede week berig dat die Kommandokorps se instrukteurs die tieners tydens kampe leer om soldate te word en hulle probeer oortuig dat daar ‘n rasoorlog in die land aan die gang is. Die kampleier, Franz Jooste (57), het glo aan hulle gesê hulle gaan regte mans word en dat swart mense minderwaardig is en nie daartoe in staat is om te regeer nie, het die Mail & Guardian berig. Hy het glo ook gesê dat swart Suid-Afrikaners, behalwe vir inboorlinge in Australië, die “mees onderontwikkelde, barbaarse deel van die mensdom” is. “Wie is my vyand in Suid-Afrika? Wie moor, roof en verkrag? Wie is hierdie kreature? Die swartes,” het die Mail & Guardian hom aangehaal. Terwyl Jooste beweer dit neem hom sowat ‘n uur om enige idees wat die seuns oor ‘n reënboognasie het uit te roei, het hy ook gesê sy doel is nie om hulle in ‘n spesifieke rigting te dwing nie. “Al wat ons wil doen, is om die gevoel wat reeds binne hulle is oor te dra. Ons wil nie hê hulle moet haat nie.”

Benadie sê die “opleiding” geskied op ʼn plaas buite Carolina in Mpumalanga. “Dit is nie ʼn permanente kamp of millitante basis nie, en die eienaars van die plaas het geen verbintenis aan die Kommandokorps nie. Terwyl die DA-mosie nou ‘n besluit is van die wetgewer en toegepas moet word, het die DA reeds die eienaars van die plaas opgespoor en met hulle kontak gemaak, en doen ons ‘n beroep op hulle om nie toe te laat dat verdere Kommandokorps opleiding of aktiwiteite by hulle fasiliteite plaasvind nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.