‘Wettiging van prostitusie sal mensehandel, slawerny net vererger’

(Foto: Verskaf)

Vreesloos. Dis hoe Emma van der Walt, stigter van die organisasie sonder winsbejag – Brave to Love, beskryf word.

Die diep gelowige Emma en haar span betree daagliks die donker wêreld van die seksbedryf en mensehandel om jong vroue uit die kloue van die euwels te red. Hierdie meisies word dan met liefde en leiding ʼn nuwe begin gebied en vaardighede geleer.

Haar boek getiteld, Sy is veilig – my stryd teen die seksbedryf en mensehandel om God se dogters te red, is onlangs uitgereik.

Enigeen kan ʼn slagoffer word van mensehandel, waarsku Emma. Die misdadigers teer op ʼn sekere soort kwesbaarheid.

“Mensehandel het geen ras of kleur nie, die handelaars kyk nie daarna nie. Daar is slagoffers in elke nasie, en geeneen is gevrywaar van slawerny nie.

“Ons het ʼn verantwoordelikheid om te baklei vir hierdie mense se vryheid.

“Syfers wêreldwyd toon dat slegs 1 uit 100 slagoffers van slawerny gered word. Een derde van die slagoffers is kinders.”

(Foto: Verskaf)

Hoe het dit gebeur dat Emma ʼn boek oor hierdie ontstellende onderwerp geskryf het?

“Amanda de Witt van Luca het my gehoor praat by ʼn kerk en het my gekontak om te hoor of ek ʼn boek sou wou skryf. Ek het haar rustig geantwoord met vrede in my hart, want ek het geweet die tyd was reg om my stem te gebruik sodat bewusmaking die probleem in ons land kan stopsit.”

Die werklikheid van die bedryf waarvoor Suid-Afrika besonder berug is, is wêrelde verwyder van die fliek, Pretty Woman, wat onlangs weer op Netflix vertoon is. Die waarheid is dat baie van hierdie vroue wreed aangerand word en dikwels onder haglike omstandighede toegesluit word in ʼn bordeeltronk waaruit hulle nie kan ontsnap nie.

Hulle ly honger, die handelaar (pimp) neem al die geld en hulle word gedwing om dwelms te gebruik en so afhanklik daarvan te word dat hulle heeltemal afgestomp raak. Party word met gewelddadige groepverkragtings “ingelyf”.

As hulle ouer of swanger word, word hulle sonder ʼn heenkome op straat gegooi. Nutteloos.

Die sogenaamde “gastehuise” waarin hulle aangehou word, is dikwels net ʼn front vir smerige bordele.

En ja, sosiale media waarteen Emma ook in die boek waarsku, kan ʼn gevaarlike terrein wees. Hierdie jong meisies word met blink drome van model- en ander kontrakte gelok en hulle ouers kry hulle nooit weer nie.

Hulle het geen kontak met die buitewêreld nie, hul selfone word weggeneem en min slaag daarin om uit hierdie hole te ontsnap.

Emma van der Walt is die stigter van die organisasie Brave to Love. (Foto: Verskaf)

Emma was voorheen ʼn pastoor maar tien jaar gelede het sy met uitreike met ʼn span na vroue in prostitusie begin en gou met mensehandel in die kommersiële seksbedryf te doen gekry.

Sy het sewe jaar gelede bedank en veg nou al sedert 2018 heeltyds teen mensehandel.

Hoe erg is mensehandel in Suid-Afrika en Afrika? Op die agterblad van die boek, wat nie vir sensitiewe lesers aanbeveel word nie, lees ʼn mens dat Suid-Afrika se berugtheid as die bron, deurgang en bestemming van mensehandel deeglik gedokumenteer is deur navorsers, joernaliste en stenograwe wat slagoffers se ontstellende getuienis in howe transkribeer.

“Dis op hierdie gevaarlike speelgrond waar Emma haar verskyning maak. Met haar oë op die kruis gerig en haar voete vas op die grond, stuur sy doelgerig voort,” skryf Marcel van der Watt, voormalige Valke-ondersoeker van sekshandel.

Hieroor vertel Emma dat mensehandel tans die meeste in Asië voorkom.

“Tog dink ek die wêreld het nie ʼn duidelike prentjie van Afrika nie, want dit is baie onderontwikkel en akkurate navorsing en media-publisiteit ontbreek.

“Daar is groot hoeveelhede onwettige immigrante wat vanaf onder meer Thailand, China, Ethiopië, Malawi en Zimbabwe ons land ingesmokkel word. Hierdie migrante word nie voldoende geïdentifiseer as slagoffers vir mensehandel nie. Kinders kom sonder dokumentasie oor ons grense wat hulle uiters kwesbaar maak.

“Ons land is ook ʼn oorgangsland vir slagoffers, vir sommige ʼn bestemmingsland en vir ander ʼn plek van werwing. Suid-Afrika is ʼn ekonomiese spilpunt vir Afrika en handelaars gebruik dit as ʼn valse belofte om mense uit te buit.”

(Foto: Verskaf)

Emma het al Thailand en Indonesië besoek waar skrikwekkende dinge in die bedryf gebeur.

“Ons het ʼn sterk internasionale netwerk van ander organisasies wat saam teen mensehandel veg.

Mensehandel gebeur oor verskillende landsgrense en ons moet daardie netwerk koester om die probleem effektief aan te spreek en te oorwin.

“Ons is tans besig om te kyk watter Afrikalande ons met opleiding en bewusmakingsprojekte, met ʼn fokus op lande wat mense na Suid-Afrika smokkel, kan ophef.”

Vir haar is die beste deel van haar werk, wat vir haar ontsaglik vervullend is, om elke dag wakker te word en te weet sy bring verandering.

“Die Here het my duidelik geroep en dit dra my. Ek is dankbaar vir die voorreg en ek leer elke dag. Die hartseer deel vir my is as ek in die oë van die ma of pa kyk wat my huilend vra om te help of wat die meisie vind nadat sy verkrag is. Ek huil saam, maar ek kry my anker in God.”

Het sy al ooit lus gevoel om tou op te gooi?

“Daar was oomblikke wat ek plat gegooi was op die grond. Daar was nagte wat ek huilend oor die meisies wakker geskrik het. Dis moeilik om oor die geveg te praat, my woorde raak dan min. Ek was al moedeloos, maar ek sal nie ophou tot die Here vir my duidelik sê ek moet ophou nie.”

Sy sê in die dekade wat sy met derduisende vroue in prostitusie gesels het, het nie ʼn enkele een gesê dat sy dit geniet om tien keer per dag seks met ʼn vreemdeling te hê nie.

“Hulle sal soms antwoord dat die geld help, maar hulle praat nie altyd oor wat agter toe deure aangaan nie. Prostitusie is fisiek skadelik en emosioneel afbrekend. Nie een jong meisie droom daarvan as sy eendag groot is nie.”

(Foto: Verskaf)

“Ek wens ek kan elke meisie help wat ek ontmoet, my hart is regtig gevul met liefde vir haar want sy het ook ʼn storie nes ek en jy. Baie vroue is as slagoffers vasgevang in hul omstandighede en dit kos dapper mans wat bereid sal wees om op te staan en saam beskerming vir hierdie kwesbares te bring.”

Wat die polisie betref, sê sy sekskopers (Johns) word nie tans in Suid-Afrika vervolg nie. Dit skep ʼn groot probleem want dit lei weer tot ʼn groter vraag na seksverkope en vroue van die buiteland, soos Zimbabwe, stroom onwettig na Suid-Afrika toe en werk in prostitusie want hulle kan nie ander werk kry nie.

“Daar was al hofsake waar handelaars gevonnis is. Hoewel die wetgewing goed is, het ons nie genoeg spesiale eenhede en polisielede wat opgelei is om met mensehandel te werk nie.

“Daar moet beslag op die eiendomme van hierdie bordeelbase gelê word en hulle moet gevonnis word. Dit is georganiseerde misdaad wat hierby betrokke is. Hoewel daar hardwerkende, kundige polisielede is, is daar nie genoeg van hulle nie.

“Die nood is groot en ons kort dringend meer opleiding en mannekrag in die polisie.

“Suid-Afrika het ook ʼn enorme behoefte aan huise van veiligheid. Die huise vir kinders is oorvol en daar is nie plek nie. Die afgelope twee jaar het van die huise toegemaak of hulle akkreditasie verloor om slagoffers van mensehandel te help.”

Emma is sterk teen die wettiging van prostitusie gekant want sy meen dat dit net die probleme rondom slawerny, dwelmverslawing en mishandeling sal vererger.

“Die wettiging van prostitusie word gedryf om ʼn veiliger omgewing vir vroue te verseker, maar navorsing toon dat die lande wat hierdie roete gevolg het, insluitend Nederland, bevestig dat georganiseerde misdaad buite beheer is in die gebiede waar dit gewettig is.

“Ons grootste bekommernis is dat daar bewyse is dat die gewettigde gebiede in hierdie lande kinders meer kwesbaar maak om in die kloue van sekshandel te beland.

(Foto: Verskaf)

“Die stelsel van prostitusie is vernederend en gewelddadig teenoor vroue en die regering moet eerder uittredestrategieë, onderwys en indiensneming vir hierdie vroue ontwikkel.

“Die sekskopers moet hoë boetes opgelê en vervolg word omdat hulle die vraag aanwakker wat die omgewing skep vir kwesbare kinders en vroue.”

Haar raad aan ouers van dogters is: “Ons kan nie met vrees vir mensehandel saamleef nie, maar ons moet wel waaksaam wees met ons dogters.

“Moenie jou dogter emosioneel afskeep nie, bou haar selfvertroue. Leer haar dapperheid, leer haar grense stel en om nee te sê. Betrokke ouerskap is noodsaaklik.

Daar is ʼn rede waarom daar ʼn ouderdomsbeperking op sosiale media is. Jong kinders behoort nie ʼn slimfoon te hê nie, want dit stel hulle aan internasionale mensehandelaars bloot wat kinders op hierdie platform teiken.”

  • Brave to Love het altyd vrywilligers nodig. Daar is ʼn keuringsproses en verskillende funksies vir vrywilligers. Kontak [email protected] vir meer inligting.
  • Lees The Physical Damage in Prostitution: Report by a Gynaecologist from Street Work Liane Bissinger, gynaecologist 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marietjie ·

Dagse. Ek stem hoegenaamd nie saam met Emma se siening nie. Prostitusie het niks met mensehandel te make nie. Sy moet gaan inligting inwin by prof Johann Lemmer n kundige op die gebied met jare se akademiese ervaring.

Renier ·

Ek stem saam Marietjie,die girl het nie n clue waarvan sy praat nie.

Lettie ·

Hoe dit ookal sy Emma baie sterkte aan jou en jou span. Dis ‘n eerbare poging om na te streef. Mag God jul seën.

Fubar ·

Ek het dit nog altyd gehad uit mense wat “pastore” was of is. Moet hulle nie glo nie. Die meeste van hulle praat nonsens en is net daar vir die geld en “aansien.” En lieg! Soos tandetrekkers. Nee, wat. Wys my jou kwalifikasie as Leermeester en miskien (BAIE groot miskien) glo ek jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.