Wetwysigings maak deelname aan nasionale verkiesings vir SA’ners in die buiteland makliker

stembriefIn kommentaar wat vandag aan die parlementêre portefeuljekomitee van Binnelandse Sake gestuur is, verwelkom AfriForum aanpassings aan die Kieswet (Wet 73 van 1998) wat deelname aan nasionale verkiesings vir Suid-Afrikaners in die buiteland sal vergemaklik. AfriForum was ʼn vriend van die Grondwethof in 2009 in ʼn saak waar beslis is dat Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland woon, steeds die reg moet hê om ʼn nasionale stem uit te bring.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, is Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland ʼn waardevolle bate vir die land. Van hulle het steeds belange hier, insluitend familielede, vriende, eiendom en beleggings. Hulle tree op as die land se nie-amptelike “ambassadeurs” waar hulle ook al gaan, en beïnvloed só die mening van buitelanders oor die land. Van hulle lewer ʼn substansiële bydrae tot die plaaslike ekonomie deur die terugploeg van kundigheid, die aankoop van Suid-Afrikaanse produkte vir gebruik in die buiteland en finansiële skenkings ten bate van vriende, familie en plaaslike sake wat hulle na aan die hart lê.

AfriForum het begrip vir die bykomende koste wat hulle deelname sal meebring – ʼn bedrag van R5,7 miljoen is genoem tydens ʼn voorlegging van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in Augustus 2013, maar in die lig van die omvang van hierdie Suid-Afrikaners se bydrae, meen Bailey dat dit ʼn geregverdigde uitgawe is. “Hulle grondwetlike reg kan ook nie op grond van koste ontken word nie,” het sy gesê.

Voorgestelde wysigings aan die Kieswet sluit in dat Suid-Afrikaners voortaan in die buiteland as kiesers sal kan registreer. Registrasie en stemming sal voorlopig net by Suid-Afrikaanse diplomatieke sendings en ambassades kan geskied, wat in lande soos die VSA, Kanada en Australië sal beteken dat sommige voornemende kiesers ver sal moet reis, maar AfriForum gee toe dat dit tans die beste opsie is om te verseker dat die stemproses veilig hanteer word. Bailey het wel ʼn beroep op die OVK gedoen om in die toekoms meer opsies soos elektroniese stemdeelname te ondersoek om dit steeds vir meer Suid-Afrikaners moontlik te maak om hulle kruisies in die buiteland te trek.

Die publiek het nog tyd tot 6 September 2013 om kommentaar op die voorgestelde Kieswetwysigings te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willy ·

Goeie nuus. Realisties gestel, ek hoop daar kan gereken word op hulle stem. Hoop nie dit is ‘n “out of sight, out of mind” gedagte nie.

J.A. ·

Beslis nie “out of sight, out of mind” nie. Ek kuier tans by kinders in Australië, en almal hier sal die voorreg nie versmaai nie!!!!

Willy ·

Dankie vir die goeie nuus J.A. Lekker kuier by die kinders en ‘n veilig terugreis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.