Soorte resepte:

Wie geniet wyn meer? Mans of vroue?

Dr. Carla Weightman. Foto: Verskaf

Suid-Afrikaanse wynverbruikers deel soortgelyke beskouings van wyn oor verskillende etniese groepe heen.

Dit blyk uit navorsing deur dr. Carla Weightman waarin sy gefokus het op die beskouings van plaaslike verbruikers jeens wyn. Weightman het Dinsdag haar PhD (Wynbiotegnologie) oor hierdie onderwerp van die fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch gekry.

Hierdie projek is gedoen in die navorsingsprogram van dr. Hélène Nieuwoudt, senior navorser by die Instituut vir Wynbiotegnologie, wat fokus op sensoriese en navorsingsaspekte van Suid-Afrikaanse wyn.

Dit is die eerste studie in sy soort waarin gefokus word om die veranderde landskap van plaaslike wynverbruik oor kulture heen te verstaan.

Voorheen het die plaaslike wynbedryf meestal op die uitvoermark gefokus. Dit het egter die toenemende binnelandse mark as ʼn prioriteit geïdentifiseer. Suid-Afrika het per capita ʼn baie lae wynverbruik vergeleke met ander wynproduserende lande. Die plaaslike wynmark het oor die afgelope twee dekades ook verander en kry stewige kompetisie van ander alkoholiese drank, hoofsaaklik bier. Die wynbedryf is nou daarop gerig om meer verbruikergedrewe te wees om wynverbruik te verhoog.

In haar ondersoek het Weightman gefokus op die twee groepe wat mees beduidend wyn in die land geniet, naamlik stedelike swart en wit wyndrinkers.

Histories is die wit verbruikers die grootste groep verbruikers van wyn, maar swart verbruikers is nou verantwoordelik vir sowat 80% van wynverbruik in die land. Daar is nog min navorsing gedoen oor die veranderende aard van wynverbruikers en hul beskouing van wyn.

Dit kom voor of wyn in verband gebring word met status en gesofistikeerdheid, voorkoms, viering, ontspanning en kos. Weightman het dit soos volg verduidelik: “Die feit dat wyn by etes gedrink word, is wat beskou kan word as die vernaamste dryfkrag wat wyn van ander kategorieë van alkoholiese drank onderskei. Hierdie resultate is nie verrassend nie, maar benadruk hul belangrikheid vir verbruikers en die bedryf moet op hierdie idees fokus. Namate verbruikers se sosiodemografiese profiele eenders word, so word ook hul wynbeskouing en voorkeure dieselfde.”

Weightman het fokusgroepe ingespan om verbruikers se beskouings, stylvoorkeure, die konteks waarbinne hulle iets geniet, hul koop- en verbruikspatrone en reis na wynverbruik beter te begryp.

Sy het ʼn vraelys opgestel om motiverings vir wynverbruik op ʼn groot skaal te bekyk en op stedelike verbruikers in Gauteng gefokus. Weightman het ook verbruikers vergelyk, assessore opgelei en bedryfslui se sensoriese persepsie van wyn ondersoek. Sy het ook die invloed van kultivarname en voorkeure van verbruikers bekyk.

Anine Killian geniet ʼn wynproesessie. Foto: Phillip Bruwer

In die algemeen is die motivering vir mense om wyn te drink in die verskillende verbruikersegmente dieselfde. Die sosiale aspekte, sensoriese aantreklikheid en faktore wat met etiese oorwegings verband hou, was die drie belangrikste motiveringsfaktore vir verbruikers se wynkeuses. “Verskille wat waargeneem is, was grotendeels tussen mans en vroue as verbruikers,” het Weightman opgemerk. “Wat betref etnisiteit, is in die studie bevind dit weerspieël nie ʼn groot onderskeid tussen die verskillende etniese groeperinge nie.”

Wynstylkeuses, geleenthede om dit te geniet, koop- en verbruikspatrone, asook mense se reis na wynverbruik is verken.

In Suid-Afrika is 56% van die bevolking wat wyn drink vroue en dit lyk of hulle meer wyn by meer soorte geleenthede drink as hul manlike eweknieë wat net 43% van die wynverbruikende bevolking is. Waar die meeste mans begin met bier, kies vroue om met wyn te begin.

Wyn is gewoonlik die eerste keuse vir alkoholiese drank vir vroue by die meeste geleenthede. Mans kies in die algemeen om bier of whiskey eerste te drink, maar sal wyn drink saam met ʼn maaltyd.

Vroue van albei kulturele groepe was daartoe geneig om wyn meer gereeld vroeër in hul lewe te begin gebruik as hul manlike eweknieë. Jonger mans van albei kultuurgroepe drink meestal bier en verskillende soorte sterk drank (soos whiskey).

Die mees beduidende invloed op wynverbruik is die konteks waarbinne dit verbruik word, luidens die ondersoek. Die tweede faktor van kernbelang is die lokaal waar die verbruik plaasvind en die derde faktor is of ʼn maaltyd daarby betrokke is. Eindelik is die beslissende faktor in verbruikerskeuses oor wyn hul begroting.

Nog ʼn konteks waar wynverbruik verskil, is tuis. Vrouedeelnemers het opgemerk dat hulle telkens ʼn glas wyn drink wanneer hulle tuiskom om hulle te help ontspan ná ʼn stresvolle dag. In die geval van mans is wynverbruik sterk verbind tot ʼn sosiale geleentheid. Hierdie bevinding is nie beperk tot wyn nie. Dit geld ook vir bierverbruik.

ʼn Ontluikende tendens onder swart verbruikers, mans én vroue, is die gedagte om jou spesifieke maaltye en wyn te kombineer vir ʼn beter eetervaring. Dit lyk of swart verbruikers meer bewustelik byhou met huidige tendense en meer daarin en in handelsmerke belangstel as hul wit eweknieë, luidens die studie.

Interessant genoeg word rooiwyn as beter as witwyn beskou. Mense is ook gewillig om meer geld te bestee aan rooiwyn as aan witwyn, veral as die bottel ʼn kurkprop het. Verbruikers glo ook wyn met ʼn kurkprop “smaak anders” as wyn met ʼn skroefdop, maar kan nie presies sê hoe die smaak verskil nie.

Hoewel die swart groep verbruikers ʼn taamlike laat toetrede gemaak het met hul wynverbruik, is hul motiverings vir hoekom hulle wyn drink en beskouings daaroor nie opmerklik verskillend van dié van hul wit eweknieë nie.

Hindernisse wat betref verbruikersetiket en onuitgesproke reëls is geïdentifiseer as moontlike redes wat keer dat daar meer in die algemeen wyn verbruik word. Hierdie “hindernisse” werk tot ʼn mate die verskille tussen wyn- en ander alkoholkategorieë in die hand.

Weightman verduidelik dit soos volg: “Dit is ietwat van ʼn tameletjie waar dit gaan om die verhoging van wynverbruik in Suid-Afrika. Hoewel die bedryf ʼn toename in verbruik wil sien en wyn meer toeganklik maak, is dit die elite-status (van die produk) wat wyn gesog maak. Dit gee aanleiding tot die vraag: As almal begin wyn drink, kan dit sy aantrekkingskrag verloor?”

Oor die algemeen is die redes om wyn te drink dieselfde tussen die verskillende verbruikersegmente. Die sosiale aspekte, sensoriese aantreklikheid en faktore wat met etiese oorwegings verband hou, was die drie belangrikste motiveringsfaktore vir Suid-Afrikaanse wynverbruikers.

Die studie dra by tot beter insae in die persepsies van plaaslike verbruikers van wyn en toon toekomstige rigtings vir verdere studies. Daar is verskeie projekte wat hieruit gespruit het wat tans gedoen word deur die Instituut vir Wynbiotegnologie. Dit is gerig op spesifieke segmente van die plaaslike wynverbruikersbevolking.

Die Nasionale Navorsingstigting, die Departement van Wetenskap en Tegnologie, Winetech en die Instituut vir Wynbiotegnologie het die projek gefinansier.

  • Hierdie artikel is geskryf en saamgestel deur die korporatiewe afdeling van die Universiteit Stellenbosch.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Drinkgoed, Nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

22 Kommentare

Cherokee ·

Nee Johan, moet nie namens ,
“mans” antwoord nie, Jy het nie die reg daartoe nie. òns het jou nie toegelaat nie. Jy kan slegs en enkel nèt namens jouself praat. Onthou dit. Ék is ‘n wyndrinker. Droog Rooi en slegs naweke. Finnish en klaar.

Hannes ·

Johan, jy kan sê wat jy wil. Jy het niemand se toestemming nodig nie.

Paul ·

Die artikel is 100% korrek, ek kan daarvan uit manlike en vroulike oogpunte getuig.

Hannes ·

In die artikel word gese daar is gefokus op die stedelike verbruiker in Gauteng. Dit is bekend dat die hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroom in die Noordkaap op die platteland voor kom. Die papsak wyndrinker is dus nie by die navorsing betrek nie. Gaan kyk gerus by wynkelders watter wyn verkoop in die grootste volumes. Of tel n papsak nou skielik nie meer as wyn nie.

Daan Erasmus ·

Kry ‘n mens nog ‘n papsak. Ek het regtig nie ‘n papsak nou onlangs gesien nie. By ons kry jy nie eers meer wyn in ‘n plastiek houer nie.

Hannes ·

Ek hou van Rooiwyn, verkieslik Merlot.
En dan in die somer my Bier.

Justice ·

Indien 56% van die vroue wyn drink en mans slegs 43% wie drink dan die ander 1%?

Vra maaar ·

Seker die wat nie weet wie hul is of wat hul wil drink, maw hul drink die snaakse naam wyn gemeng met wie weet wat gekleur gegeur en siedaar die 1% wat lees dis laag in kjolle.

Cherokee ·

Terloops, ek is juis nou besig om ‘n universiteitstudent te help met haar tesis vir PhD en haar tema is ‘Living on the Beachfront’. Ek hoop nie Carla Weightman het dieselfde wiskunde in haar tesis toegepas met 56% + 43% wat dui op ‘n eindtotaal, nie.

Francois Joubert ·

Ek woon in die Boland en het op ‘n wynplaas grootgeword. My vraag: As jy moet kies tussen maar wees vir die res van jou lewe of wyn drink, wat sal jy kies, wit of rooiwyn?

Cherokee ·

Ek is nie seker of sy drink nie en kan seker maak maar dìt gaan die hele tesis verander!

Stefaans ·

Klink vir my na ‘n baie lekker studierigting. Vir wat is almal so begaan oor die 1%? Na die tweede of derde glasie maak dit nie ‘n verskil nie. Gesondheid!

Fritz mulder ·

n glas wyn is lekker maar nie so verfrissend soos n koue bier nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.