Wikileaks-kabel: VSA vergelyk ANC met Apartheid regime

“Die party wat Suid-Afrika uit Apartheid gelei het, het teen 2010 in anti-demokratiese praktyke verval wat herinner aan die regime waarteen hy geveg het.”

Só lui ʼn diplomatieke kabel van die VSA wat deur Wikileaks uitgereik is. Die kabel wat van die VSA se Pretoria ambassade afkomstig is en 8 Januarie 2010 gedateer is, sê die ANC het in die voetspore van die Apartheid regime gevolg rakende sy hantering van die plakkersgroep Abahlali baseMjondolo (AbM). Dié groep is in 2005 in Durban op die been gebring na ʼn protesoptog teen die verkoop van vakante grond wat beloof is vir ʼn groep mense wat by ʼn nabygeleë informele nedersetting gewoon het. Abahlali baseMjondolo beteken ‘mense wat in plakkershutte woon’ in Zoeloe. Die kabel lui: “Die ooreenkomste tussen die AbM se stryd teen die ANC en die laasgenoemde se stryd teen die Apartheid regime kan nie geïgnoreer word nie. Die titel van die kabel lui “Is die ANC so demokraties soos hy voorgee?” Die kabel verwys, in die stryd tussen AbM en die ANC, na gedwonge uitsettings, geweld, intimidasie en leiers wat wegkruip, wat sterk herinner aan tye wat “glo reeds lankal verby was”. Die kabel trek ook ʼn verbintenis tussen die sielkunde van die ANC se stryd teen Apartheid en sy hantering van die AbM. Volgens die kabel is die ANC-leiers se bewering dat ʼn ‘derde mag’ hier te werk was, ʼn herinnering aan die paranoia wat gepaard gegaan het met die apartheidsera. “Die AbM beweging is ʼn toets van demokratiese regering vir die ANC, aangesien die organisasie self besluit wat om te doen wanneer sy eie mense nie sy visie van ontwikkeling ondersteun nie,” lui die kabel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.