Frank Lesenyego, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Marnus Steyl is op borgtog van R100 000 vrygelaat. Hy is ook beveel om sy paspoort in te handig. “Indien hy oorsee wil reis moet hy R10 000 betaal om sy paspoort terug te kry en wanneer hy terugkeer sal die geld aan hom terugbetaal word.” Die saak is uitgestel tot 25 Maart. Steyl staan tereg op 23 aanklagte waaronder onwettige renosterjag en geldwassery. Steyl het vroeër Woensdagoggend by die hof aangemeld nadat daar ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is.
Steyl het verlede jaar saam met die Thaise smokkelaar Chumlong Lemtongthai tereg gestaan op aanklagte dat hulle ʼn Suidoos-Asiese smokkelsindikaat bedryf het waarvolgens renoster-jagpermitte onder valse voorwendsels bekom is en vir die “trofeejag” van renosters gebruik is. Die sindikaat het glo jong Thaise vroue, wat as ontkleedansers na die land gesmokkel is, gebruik om as trofeejagters te poseer. Lemtongthai is verlede maand tot 40 jaar tronkstraf gevonnis. Die aanklagte teen Steyl is egter teruggetrek.