William vertel meer oor vaderskap

Prins William, Kate en prins George

‘n Foto van prins George se geboortesertifikaat volg onderaan die berig. Prins William het gaste by ‘n polo-byeenkoms vir liefdadigheid bietjie meer vertel van sy splinternuwe vaderskappligte.

William het saam met sy broer, Harry, by die Audi Polo Challenge in Ascot, Engeland, gespeel.

Prins George, William en Kate se seun, is minder as twee weke gelede gebore en William het aan die toeskouers gesê dit is “goed om vir die middag bietjie uit die huis uit te kom”.

William (31) het die wendoel aangeteken vir sy span en ‘n miniatuur polo-stok vir George is later aan hom oorhandig. Hy het geskerts en gevra of daar dalk babadoeke ook beskikbaar is, omdat hy “op pad huis toe” daarvan moet kry.

Hy sê die klein prins, wat op 22 Julie gebore is, “hou daarvan om rond te beweeg”. “Hy wikkel baie. Hy hou ons op ons tone,” het hy gesê.

Prins George se geboorte is Vrydag amptelik by Kensington-paleis geregistreer. Onder die wet moet alle geboortes binne 42 dae geregistreer word.

Die paleis het ‘n foto van die prins se geboortesertifikaat vrygestel en dit is alles behalwe die gewone vervelige antwoorde.

Die baba se naam is opgeteken as Sy Koninklike Hoogheid Prins George Alexander Louis van Cambridge. Sy ouers se name is Sy Koninklike Hoogheid Prins William Arthur Philip Louis Hertog van Cambridge en Catherine Elizabeth Haar Koninklike Hoogheid die Hertogin van Cambridge.

William se posbeskrywing is “Prins van die Verenigde Koninkryk” en Kate is “Prinses van die Verenigde Koninkryk”. Alhoewel William ‘n soektog- en reddingshelikoptervlieënier vir die Engelse lugmag is, is dit nie op die vorm aangedui nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.