Winnie: Saak teen polisiebeamptes teruggetrek

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, saam met ao. Jannie Odendaal

Die strafregtelike aanklagte teen twee polisiebeamptes wat Winnie Madikizela-Mandela se motor van die pad afgetrek het, is gister in die Johannesburgse landdroshof teruggetrek.

Adjudant-offisier Jannie Odendaal en konstabel Abel Twala is van intimidasie, aanranding en die rig van ʼn vuurwapen aangekla deur Jacob Olebile Monare, Madikizela-Mandela se lyfwag. Odendaal en Twala het in die spervuur gekom nadat hulle die voertuig waarin Madikizela-Mandela op 30 Desember 2010 gery het, van die M1-Noord afgetrek het omdat die bestuurder na bewering roekeloos en teen ʼn hoë spoed deur die verkeer gevleg het. Hulle is in Februarie 2011 met salaris en voordele hangende ’n interne ondersoek geskors.

Die vakbond Solidariteit sê hy gaan die moontlikheid ondersoek om Monare van kwaadwillige vervolging aan te kla .Solidariteit het ook versoek dat die klagtes wat destyds teen Madikizela-Mandela en haar lyfwagte aanhangig gemaak is, weer ondersoek word en dat die arbeidsregtelike klagte teen die polisiebeamptes nou ook teruggetrek word. Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, moet die aanklagte wat Odendaal en Twala teen Madikizela-Mandela en haar lyfwagte gemaak het weer ondersoek word. “Madikizela-Mandela is van dwarsboming van die gereg aangekla terwyl klagte van aanranding en roekelose of nalatige bestuur teen onderskeidelik haar lyfwag en bestuurder ingedien is. Die Nasionale Vervolgingsgesag het egter in September verlede jaar die aanklagte teen hulle laat vaar terwyl Odendaal en Twala strafregtelik vervolg is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.