Wit bedelaars wil werk

Dit wil voorkom of die algemene persepsie dat wit bedelaars nie wil werk nie, onwaar is.

Volgens ʼn verslag van Solidariteit Helpende Hand, genaamd “Wit bedelaar in Suid-Afrika”, wat Dinsdag by die bekendgestelling van die eerste Afrikaanse werksoekportaal, WerkNet,vrygestel is, wil die meerderheid bedelaars, ongeveer 78%, wel werk. Ongelukkig word hierdie mense met uiters moeilike omstandighede gekonfronteer. Meer as die helfte van hulle het nie gematrikuleer nie en sukkel boonop met sielkundige en leerprobleme. Lewensomstandighede, soos byvoorbeeld iemand wat sy werk verloor, kan ook veroorsaak dat iemand ʼn bedelaar word.

As deel van die studie het Solidariteit Helpende Hand op hulle Facebook-blad ʼn paar vrae gestel, waar hulle gevra het wat die gevoel teenoor wit bedelaars is en of hulle sal geld aan wit bedelaars gee.

Die reaksie was oorwegend negatief.  Van die menings wat tydens hierdie meningspeiling na vore gekom het, was dat bedelaars nie wil werk nie.  Daar was ook diegene wat bedelaars as lui en arrogant beskryf.

Verder is daar bevind dat sommige mense skaam is vir wit bedelaars.  Die rede hiervoor is glo omdat swart bedelaars soms nog probeer om ʼn inkomste te genereer deur iets op straat te verkoop, teenoor wit bedelaars wat nie altyd dieselfde poging aanwend nie.

Die studie het gevind dat nagenoeg 40% van die bedelaars wat deelgeneem het tussen R50 en R150 per dag verdien en dat 7% meer as R500 per dag verdien.  Meer as driekwart (80%) van die bedelaars gebruik hulle inkomste vir kos terwyl 18% dit vir drank gebruik. Slegs 7% het erken dat hulle dwelms gebruik.

Daar is wel mense wat voel dat bedelaars met meer begrip hanteer moet word en dat jy jou vir ʼn oomblik moet indink hoe dit is om in dieselfde omstandighede as ʼn bedelaar te wees.

Sommige mense sal eerder kos of klere in plaas van geld gee, maar die wat wel ʼn finansiële bydrae wil lewer, sal dit glo eerder vir ʼn organisasie en kerke gee.

Volgens die studie is daar organisasies wat kan help en waar bedelaars die geleentheid het om vaardighede aan te leer.

Dit gaan verder deur te sê dat mense wat aan bedelaars gee, bydrae tot die probleem: “Geen gemeenskap kan toelaat dat bedelary ʼn winsgewende of aanloklike opsie word nie.”

Die navorsing is in Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en in die Suid-Kaap gedoen.  Die groep bedelaars wat aan die studie deelgeneem het, was oorwegend mans met slegs 24% vrouens wat deelgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ina Chatwind ·

My hart gaan uit na hierdie mense. Kyk gerus na die betrekkings vakant berigte in die koerante. 80% Vra vir c.v.’s om ge e.pos te word. Waar moet iemand op straat die fasiliteite vandaan kry. Daarby het hulle nie ablusie geriewe of mooi, skoon klere om aan te trek vir onderhoude nie. Dis benewens die feit dat hierdie mense nie hoogs geleerd is nie. Die enigste inrigting vir haweloses in my tuisdorp verwag R20 per nag om vir die mense slaapplek te gee en die slaapplek is maar treurig. Nee wat, jy wat hierdie mense veroordeel, hou op om jou optrede te regverdig as jy geen gevoel vir jou medemens oor het nie. Wees eerder dankbaar dat dit nie jou omstandighede is nie.

Gemsbok ·

Ek verstaan dat hoewel die bedelaars graag wil werk, hulle volgens die studie nie bereid is om “minderwaardige werk” te doen nie.

Volgens my ervaring is “minderwaardige werk” gelyk aan “harde werk”.

Ek stem saam dat geen gemeenskap kan bekostig dat bedelary winsgewend word nie. So ook kan geen gemeenskap dit bekostig om werk te klassifiseer as “minderwaardig” nie.

Dirk Van Rooyen ·

Wel, ek is nou verby die stadium waar ek hoor dat hulle lui, vuil ens. is. My hond Boelie is ook verskriklik lui, slaap heeldag, en kom net met n “smile” op sy gesig na ons toe as hy weet daar is vir hom lekker vleis in sy kosbak. Hy is n hond,ek veroordeel hom nie en spandeer baie meer geld op hom as wat ek op my medemens spandeer. Nou ja n mens kan seker n helse debat hieroor he, maar dit gaan my of die straatbedelaars niks in die sak bring nie.

Ek stem saam met Ina Chatwink—Dit is makliker gese as gedaan om die ouens weer deel van die samelewing te maak.

Ek is al uitgelag by die werk deur swart kollegas oor die baie wit bedelaars wat op straat bedel. Dit was soos n meswond in my hart aangesien my pa ook op n stadium moed opgegee het en eerder besluit het om te bedel vir n lewe.

My visie is dat geen persoon nodig moet he om te bedel nie, dus is ek besig met die volgende projek.:

Aangesien ek geen persoon op straat wil sien wat bedel om te oorleef ,bly daar net een uitweg oor -hulle moet werk vir wat hulle kry.

My projek se naam is facesa “Face of South Africa”

Facesa wil die kaf van die koring skei onder die bedelaars. Die wat bereid is en erenstig is om te werk gaan by Facesa my aansluit .Hulle gaan onwettige posters van straatpale en elektriese panele afhaal,strate vee ens. in ruil vir n “salaris” wat deur besighede geborg gaan word. Ek weet dat net die wat erenstig is sal aansluit en dit is wat ek wil he ………………………..

Brenda ·

Mooi so! Iemand wat ophou veroordeel en iets doen om, die wat WIL werk, te help. Puik inisiatief!!!

Erika ·

Dirk ek hou baie styf duim vas dit jou projek geslaagd sal wees. Ek stem saam met al hierdie ellenidige vieslike advertensies teen al wat straat paal, ek hoef nie van dit hier te herhaal nie, maar om elke hoek en draai lees jy iets viesliks. Ek het al self een oggend hier in Pretoria van hierdie advertensies afgeruk, SAFE abortion – ….

Sterkte Dirk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.