Wit Zuma, Madiba van uitstalling verwyder

ʼn Skildery wat president Jacob Zuma en voormalige president Nelson Mandela as witmense uitbeeld, is van ʼn kunsuitstalling in Nelspruit verwyder.

Dié kunswerk van Kobus Myburgh sou deel gevorm het van ʼn kunsuitstalling in die Van Riebeecksaal as deel van die munisipaliteit se vieringe van Wêreld Kunsdag, het Beeld berig.

In die kunswerk word voormalige staatsamptenare Hendrik Verwoerd, John Vorster, PW Botha en FW de Klerk as swartmense uitgebeeld.

Themba Mona, die munisipaliteit se hoof van kuns en kultuur, het die uitstalling ondersoek en besluit die skildery “is nie geskik vir die publiek nie”. Mona het die skildery verwyder en in ʼn stoorkamer toegesluit.

Myburgh het gesê hy het die skildery al twee jaar gelede geverf, nog voordat Zuma se The Spear-skildery opslag gemaak het.

“Dit is geensins bedoel om ʼn betoog-kunswerk te wees nie. Dit het eintlik ʼn positiewe boodskap wat wys ons is eintlik almal dieselfde. Die skildery se naam is Simunye (wat “ons is een” in Zulu beteken). Ons is almal gelyk, maak nie saak wat die kleur van ons vel is nie,” het hy gesê.

Myburgh het gesê hy is teleurgesteld in die munisipaliteit se besluit, maar dat hy dit respekteer.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.