ʼn Sakeman van Witbank is Donderdag in hegtenis geneem vir die ontvoering van ʼn 16-jarige meisie.
ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Alfred Nakana, sê die meisie was egter teen laat Donderdagmiddag steeds vermis. Die meisie het Maandag in Daveyton aan die Oos-Rand vermis geraak. Nakana sê die meisie se ma het omstreeks 22:00 Maandagaand ʼn oproep ontvang van ʼn man wat R80 000 geëis het vir die veilige terugkeer van haar dogter. Hy sê sy het die saak onmiddellik by die polisie aangemeld. Nakana sê die polisie het die telefoonoproep nagegaan en die 40-jarige man in ʼn huis in Witbank in hegtenis geneem. Hy sê die verdagte is in die vervoerbedryf. Hy sal binnekort in die hof verskyn. Enigiemand met inligting kan kapt. Angel Mthethwa kontak op 083-479-7196.