Withaai in Mosambiek geslag

Brenda toe sy in Maart gemerk is. Foto: Ocearch

Brenda, ʼn 3.6 meterlange withaai wat deur Ocearch vir navorsing gemerk was, is aan die kus van Mosambiek gevang en geslag.

“Brenda is onlangs deur plaaslike vissermanne in ʼn vangnet gevang, haar vleis is aan inwoners gegee en haar vinne is verkoop,” het die nie-winsgewende organisasie Ocearch Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Ocearch het Brenda op 8 Maart vanjaar in Mosselbaai gemerk. Chris Fischer, wat saam met Ocearch en ander wetenskaplikes al meer as 30 withaaie in Suid-Afrika se oseane gemerk het, was geskok deur die nuus. “Ons is almal hartseer om van Brenda se lot te verneem, sy was ʼn pragtige withaai,” het hy gesê.

ʼn Span het ver deur afgeleë gebiede in Mosambiek gereis om ondersoek in te stel nadat Brenda vermis geraak het. Hulle het op die dorpie afgekom en gehoor wat gebeur het. Hulle het ook haar merkingstoestel teruggekry.

“Dit is hartseer dat ʼn dier wat in Suid-Afrika beskerm word in Mosambiek gevang en geslag is. Miljoene haaie word jaarliks vir hul vinne doodgemaak. Die navorsing wat Ocearch doen om haaie te merk is noodsaaklik om die toekoms van withaaie in Suid-Afrika en ander gebiede te verseker,” het Fischer gesê. “Inligting toon dat withaaie na Mosambiek migreer. Dit is dus belangrik dat Suid-Afrika en Mosambiek se regerings samesprekings hou om die haaie te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.