Wittebrood: Egpaar verkies wildbewaring bo ‘op ʼn strand lê’

Daniel en Joné Haesslich. Foto: Facebook via Driving against extinction.

Daniel en Joné Haesslich. Foto: Facebook via Driving against extinction.

Daniel en Joné Haesslich is geen “gewone” egpaar nie – dit is duidelik te sien in die manier waarop hulle hul wittebrood deurbring.

Die egpaar het op 3 Mei vanjaar met ʼn toer, Driving Against Extinction, begin waardeur hulle bewusmaking wil skep van die probleme wat Suid-Afrika met wildbewaring het. Die toer behels ʼn twee maande lange reis deur verskeie Afrikalande.

Daniel is van Duitsland afkomstig en Joné was sy Engelsonderwyseres in Suid-Afrika. Hy is terug Duitsland toe, maar kon haar nie vergeet nie en het ter wille van haar teruggekom Suid-Afrika toe. Die romanse het vlamgevat en hulle is op 30 April vanjaar getroud.

Die egpaar wil tydens die toer spesifiek bewusmaking skep van die “wonderlike werk” wat vier wildbewaringsorganisasies, naamlik Saving the Survivors, Helping Rhinos, Thandi’s Endangered Species Association (TESA) en die Reserve Protection Agency (RPA) doen.

Hulle het dié organisasies se logo’s op hul bakkie laat aanbring. “Natuurlik sien mense die bakkie met al die logo’s op en dan het hulle baie vrae. Dis presies waarom ons dit doen, om mense meer te vertel oor bewaring en die organisasies wat goeie werk doen. Al die geld wat ingesamel word, sal ná en gedurende ons toer aan verskillende plekke van ons keuse geskenk word, of gereedskap sal gekoop word as ons vooraf weet wat hulle benodig,” sê Joné.

Die bakkie waarmee hul rondry. Foto: Facebook via Driving against extiction.

Die bakkie waarmee hul rondry. Foto: Facebook via Driving against extiction.

“Dit mag dalk klink soos ʼn snaakse manier om ʼn wittebrood deur te bring, maar vir ons is daar geen beter manier nie. Ons is absoluut natuurbewaarders in hart en siel. Dis hoekom ons besluit het om vir ons wittebrood liewer met ʼn bewaringsdoel te toer as om ons tyd en geleenthede te mors en op ʼn strand te gaan lê.”

Hul toer het by Kenton-on-Sea afgeskop en hulle gaan ook deur Swaziland en na die suide van die Krugerwildtuin toer. Hulle het op 21 Mei Dancing for Rhinos in Pretoria bygewoon. Verder gaan hulle Hoedspruit, Botswana en Namibië besoek. Hulle gaan langs die pad “soveel moontlik natuurreservate besoek om hul stories te hoor”.

Die egpaar beplan om aan die einde van Julie weer na die Kariega-natuurreservaat in die Oos-Kaap terug te keer waar hulle albei as wildbewaarders werk.

Belangstellendes kan gerus hul Facebook-blad, Driving Against Extinction, vir navrae of inligting oor skenkings besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ludwig ·

Wonderlik! Mag julle ‘n geseënde huwelikslewe saam hê!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.