
Musiekonderwyser en koorafrigter, Gert Potgieter (Foto: Verskaf)
Deur Linette Retief
Op Saterdag, 9 September 2023, was musiekonderwyser en koorafrigter Gert Potgieter een van 14 studente van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria wat hul doktorsgrade verwerf het. Gert se graad was egter nie sommer enige graad nie. Die titel van sy doktorstesis is Exploring breathwork paradigms of South African singing education lecturers.
Op hierdie hoë noot sou dit weliswaar vanpas wees om diep asem te haal om die inspirasie agter die onderwerp in te neem, om van die waardigheid van die gradeplegtigheid nie te praat nie.
“Dit was ʼn luisterryke geleentheid,” vertel Gert. “Ek dink ek is aan die een kant verlig dat drie jaar se harde werk beloon is, maar aan die ander kant is ek ook diep bewus van my verantwoordelik om wat ek geleer het aan ander oor te dra. Dit is dus nie die einde van die pad nie, maar ʼn nuwe begin.”
Maar kom ons begin by die “ou” begin; ʼn fassinerende waarneming: Wanneer sy koor vier uur in die middag opdaag vir oefening, vertel Gert, is hulle gewoonlik moeg, honger, buierig en lus vir niks. Na tien minute se sing, het hulle egter nuwe energie en na die sangles of kooroefening stap hulle weg met ʼn huppel in hul stap, al het hulle sleepvoet en hangskouers by die les of oefening aangekom.
Aanvanklik het hy aangeneem die nuwe energie is te danke aan die mag van sang en musiek. “Die verband tussen sang en welstand word al jare lank nagevors,” verduidelik hy. “Die konsensus is dat sosialisering, die sing van mooi musiek en opbouende lirieke asook die vibrasies in die liggaam, wat herinner aan die veiligheid binne die baarmoeder, bydra tot ʼn verhoogde vlak van welstand”.

(Foto: Verskaf)
Tog lyk dit of die werklike geheim agter die nuwe woema nie die opheffende effek van sang en musiek was nie; dit was die impak van die kaliber diep asemhaling wat ʼn voorvereiste van koorsang is.
Hierdie gewaarwording was vir Gert stof tot nadenke, want in daardie stadium was daar nie veel plaaslike navorsing oor die verhouding tussen asemhaling en welstand binne ʼn sangkonteks nie. Met dié wete, en gerugsteun deur sy eerstehandse kennis van joga, tai chi en meditasie, het hy dieper begin delf – met meer inligting én met meer insiggewende resultate.

(Foto: Verskaf)
“Daar is weliswaar ʼn direkte verband tussen asemhaling en welstand,” verduidelik hy. “Wanneer ʼn mens sing, moet jy langer asemhaal, want jy moet in effek ʼn sin voltooi. Dit is waar ons wonderwerkerspier, die diafragma, in werking tree. Jy moet jou diafragma gebruik om jou asem te reguleer. Metafories is dit soortgelyk aan wanneer jy ʼn ballon se opening tussen jou vingers vasknyp om die uitvloei te beheer”.
Dit werk so: Met inaseming aktiveer jy die simpatiese senuweestelsel wat jou energie gee (lees: woema) en met uitaseming aktiveer jy die parasimpatiese senuweestelsel wat jou kalmeer (lees: welstand).
Nog ʼn faktor wat bygedra het tot Gert se besluit om sy doktorsgraad oor asemhaling aan te pas, was sy werk met grade 4 tot 6 se lewensoriëntering-leerderwerksboeke. “Ek moes noodwendig die nasionale kurrikulum konsulteer,” vertel hy. “Daar het die terme asemhalingsbewustheid, asemhalingsoefeninge en asembeheer my opgeval – veral die feit dat daar geen verdere verduidelik van die begrippe was of ʼn riglyne vir leerkragte oor hoe om die nodige konsepte aan leerders oor te dra nie”.
Waar ander ʼn krisis sou sien, het Gert die geleentheid aangegryp. Die kommerwekkende inligtingsgaping het hom laat besluit om navorsing te doen met die oog op ʼn raamwerk wat die onderrig en leer van asemhaling vir lewensoriënteringsonderwysers sou vergemaklik.

(Foto: Verskaf)
Dié raamwerk was ook die eerste hoeksteen van sy doktorale navorsing – en die begin van ʼn aantal paradigma-verskuiwende lesse. Gert vertel: “Ek kon op die ou end agt temas identifiseer waaroor ʼn onderwyser moet besin voordat die tema van asemhaling aangespreek word. Een: Bewustheid. Twee: Doelgerigte inaseming. Drie: Nie-spanning. Vier: Genoegsame inname. Vyf: Weerstand. Ses: Bestuur van uitaseming. Sewe: Kontinuïteit. Agt: Uitvoeringsregulasie.
Om ʼn lang storie – of is dit dalk ʼn lang lied? – kort te maak; Saterdag se gradeplegtigheid was inderdaad die eindresultaat van drie jaar se inspirasie en perspirasie. Terselfdertyd was dit net die eerste tree van ʼn lang reis van lesse wat pas begin het.
Vir Gert is een daarvan ʼn lewensles: “Wees dankbaar vir elke asemteug. Die lewe is nie jou reg nie. Dit is ʼn voorreg. Dink na oor watter nalatenskap jy in die wêreld uitblaas. Is dit goed vir jou? Is dit goed vir ander? Is dit goed vir God?”
Gert se nuwe oggendroetine
Sedert die Covid-19-pandemie wat amper sy lewe geëis het, het Gert ʼn nuwe oggendroetine. Hy staan op sy stoep, haal diep asem, sê dankie vir die dag, en vra dan vir sy lyf of daar enigiets is wat uitgeasem moet word. “Daar kom altyd iets na die oppervlak,” sê hy, “Skuld, vrees, skaamte of beheer wat ek moet opgee.” Daarna haal hy sewe keer asem en vra vir sy liggaam of daar iets is wat hy moet inasem. Hy sê 90% van die tyd is die boodskap vreugde. Wanneer hy die boodskap kry, haal hy weer sewe keer asem.