Wonderwerk: Brandweerman oorleef val in brandende skag

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Brandbestryder van Durban het ʼn val van die sesde verdieping in ʼn ongebruikte hysbakskag van ʼn gebou, gehul in vlamme, oorleef terwyl hy ʼn hawelose man wou red.

“Malusi Mncube, van die Durban-brandweer, het slegs ʼn kneusplek op sy heup opgedoen toe sy kollegas hom uit die 18m-diep gat gered het,” het Max Magnussen, waarnemende hoof van die brandweer, gesê. “Die skag was donker en daar was baie rook. Dit is ongelooflik dat hy oorleef en slegs geringe beserings opgedoen het.”

Mncube het drie ure lank in die skag deurgebring saam met die liggaam van die hawelose man, wat hy wou red. Die man het aan sy beserings weens die val en rookinaseming beswyk.

Mncube se kollegas is verstom dat hy oorleef het. “Ek is stomgeslaan. Hy het ses verdiepings ver bo-op brandende puin geval, en hy het eintlik niks oorgekom nie,” het Justin Bateman aan die Witness-koerant gesê. “Ek kon die hitte bo die skag voel.”

Bateman sê Mncube het twee skerp metaalpale rakelings gemis. “As hy nie sy asemhalingstoerusting by hom gehad het nie, sou hy nie 10 minute lank kon oorleef nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacoba ·

Dit was baie braaf gewees van hom hy is rerig geseen. Ons het n brand by ons huis gehad en die brandweer was vinnig op die toneel en in die vertrek in gehardloop om die brand uit te sit nie gedink aan hulle eie veiligheid nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.