Woolworths kry toekenning

Woolworths het Dinsdag gesê hy is geëerd om vir die derde agtereenvolgende jaar as die “Verantwoordelike handelaar” tydens die World Retail Congress benoem te word.

Woolworths ontvang dié eer midde ‘n tydperk waar hy glo deur verskeie Suid-Afrikaners geboikot word, omdat hulle vakante poste adverteer wat uitsluitlik vir “swart Afrikane” of slegs “Afrikane, bruin mense en Indiërs” oop is. Woolworths beweer hulle voldoen aan die land se Wet op Gelyke Indiensneming. Die vakbond Solidariteit sê egter: “Die Wet op Gelyke Indiensneming maak nie voorsiening vir die uitsluiting van enige ras wanneer dit by aansoeke kom nie. Hierdie advertensies kom neer op ’n absolute kwota, wat die wet doelbewus verbied,” het die vakbond gesê.

“Die toekenning vereer ons klante, aandeelhouers, verskaffers en werknemers, wat verstaan dat ons land se toekomstige groei afhanklik is van almal se deel daarin om by te dra tot ʼn beter omgewing en samelewing,” het Justin Smith, Woolworths se woordvoerder, gesê.

“Dit bewys net weer dat Suid-Afrika op die globale kleinhandelskaart is en aanhoudend suksesvol meeding met die beste in die bedryf,” het hy gesê.

Marks & Spencer, wat in Engeland baseer is, is as gesamentlike wenner in die kategorie aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.