Woolworths pak-en-spaander-aksies neem toe

Die protesaksie op sosiale media waar verskeie groepe mense versoek het om, as deel van die boikot teen Woolworths, waentjies te pak en dan te spaander, het oor die naweek toegeneem.

“Die vakbond Solidariteit se veldtog teen Woolworths het onder meer protesboodskappe aan Ian Moir, die uitvoerende hoof van Woolworths, ingesluit en is grootliks op sosiale media gedryf. Ondersteuners van die veldtog het egter spontaan ander inisiatiewe op sosiale media gedryf waar daar gevra is dat mense trollies pak en dit dan daar in die winkel los of Woolworths boikot,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, Maandag gesê. Solidariteit het glad nie die protesaksie van stapel gestuur nie, het dit nooit voorgestel nie en het nooit eienaarskap daarvoor aanvaar nie.

Op verskeie Facebook-groepe en Twitter is mense versoek om waentjies vol kruideniersware te pak en dan die volgepakte waentjie net daar in die winkel te los.

Woolworths word sedert verlede week oor die kole gehaal oor posadvertensies wat sekere rasgroepe uitsluit. Woolworths adverteer poste, wat uitsluitlik vir “swart Afrikane” of slegs “Afrikane, bruin mense en Indiërs” oop is. Woolworths beklemtoon egter dat hulle nie rassisties optree nie en dat hulle steeds mense van alle rasse in verskillende poste aanstel. Sien hul verklaring hier.

Maroela Media het verlede Donderdag berig dat Woolworths in Rustenburg een van die eerste teikens van dié protesaksie was. Die volgende versoek doen die rondte in die kuberruimte: “Gaan pak julle  waentjies VOL kruideniersware by Woolworths en los dit dan net so op die vloer … Pak sommer al die goed in wat jy in elk geval nie kan bekostig nie  )) Dis hoeka amper naweek! Lekker “shop!” [sic]

Die versoek, wat soos ʼn veldbrand versprei het, se intensiteit het die naweek toegeneem en berigte van soortgelyke protesaksies by Woolworths-takke in onder andere Nelspruit, Krugersdorp en Durbanville word aangemeld.

ʼn Persoon wat hieraan deelgeneem het sê: “Ek en my kinders het Vrydag gepak van die rak. Net daarna twee ander ouens gekry om ons voorbeeld te volg. Almal dink dis vet pret. Ons gaan weer!

Nog ʼn ondersteuners wat dit gedoen het, is Saterdag uit ʼn Woolworths-tak in Durbanville belet. “Die veiligheidswag by die waentjies sê vir mense dat hulle self die items sal moet terugpak waarvoor daar nie betaal word nie. Ek het my waentjie vol gemaak en ‘probeer’ om by die toonbank te betaal met my debietkaart wat reeds verval het. Toe die transaksie nie deurgaan nie, het ek geskerts ‘my geld is seker te wit vir julle’ en probeer uitstap. Die wag het my by die deur voorgekeer en versoek om die goedere terug te pak. Ek het geweier. Die bestuurder was ook daar en het vir my gesê ek is nie meer by die winkel welkom nie,” het die man gesê. Die name van dié persone is aan Maroela Media bekend, maar word weerhou om hul identiteit te beskerm.

Woolworths het Sondag advertensies in verskeie koerante geplaas waarin die groep sy indiensnemingsbeleid verdedig.

“Oor die afgelope paar dae is daar baie dinge gesê oor ons indiensnemingsbeleid – spesifiek dat ons nie wit mense aanstel nie. Dit is nie waar nie,” lui die advertensie wat in City Press, Rapport en Sunday Times gepubliseer is. “Woolworths stel wit mense aan. Ons stel vroue en mans van alle rasgroepe – wit, swart, bruin mense, Indiërs sowel as mense met gestremdhede aan en sal voortgaan om dit te doen.”

Woolworths het in Sondag se advertensie aangevoer dat daar sekere dele van sy besigheid is wat onderverteenwoordig is. Woolworths sê dit is in dié afdelings wat hy kandidate van sekere rasgroepe benodig.

Woolworths het Maandag aan Maroela Media gesê sommige kliënte het oor die voorvalle navraag gedoen en dat hulle dit hanteer het. “Indien soortgelyke optredes in kriminele misdrywe ontaard, sal die nodige owerhede in kennis gestel word om dit te hanteer,” het Woolworths bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
Clifford

Goed gedaan! Nou kan ons weer ons debietkaarte gebruik wat reeds verval het as verskoning.

Andrew Olsen

Is dit nou ons as Afrikaners grootgemaak is?! Ek het eerlikwaar gedink ons is beter as dit, maar die “pak-en-spat” veldtog is nou super kinderagtig…. Hoe sal jy voel as iemand in jou winkel instap (waat jy byvoorbeeld slegs bruin mense of slegs blankes in diens neem) en dit met jou doen? Jy gaan nie net terugstaan soos die mense in Woolworths en verlief darmee neem, sug en maar weer die kruideniersware terug sit op die rakke nie, nee, jy gaan n hengse bohaai opskop! Wat het geword van vreeedsame protes? Sou Solidariteit die tipe gedrag ooit goedkeur, en indien… Lees meer »

Ronel

Ek dink dit doen geen skade nie, ja ‘n bietjie kinderagtig maar dis beter as om winkels af te breek en goed afte brand, Niemand word beseer in die protes nie en goed word ook nie beskadig nie. Dit skep eintlik werk. want die een wat heeldag gestaan en niks doen het nie moet nou trollies uitpak… LOL

Gustav Venter

Nee, dis nie kinderagtig nie. ‘n Kind sit terug en doen niks wanneer hy deur onreg gekonfronteer word. As die blankes nie hulle hakke inkap nie, gaan die gevolge op die land baie meer rampspoedig wees. SEB kan net vernietig en dit hang van goeie mense af om dit te stuit. En goeie mense kan begin deur trollies te pak en te los.

Paul

Hoe is die moedswillige uitpak van bederfbare kos uit yskaste anders as mense wat breek en mors wanneer gestaak word?