Woolworths van plagiaat beskuldig

Woolworths se kussing links en Euodia Roets se tekening regs

Woolworths se kussing links en Euodia Roets se tekening regs

Euoida Roets, ʼn ontwerper wat in Kaapstad woon, beweer op haar webjoernaal dat Woolworths een van haar ontwerpe “gesteel” het, maar Woolworths ontken dié aantygings.

Volgens Roets het Woolworths haar in die begin van 2013 genader om ʼn paar van haar produkte te gebruik in hul vakman-reeks. “Ek het monsters van my werk na ʼn vergadering met die hoof van aankope geneem en hulle het versoek om dié monsters te hou om vir hul bestuurder te wys,” skryf Roets.

Volgens Roets kon hulle egter nie tot ʼn vergelyk kom oor haar pryse nie en het Woolworths voorgestel dat hulle haar reeks in die Taste-tydskrif sou publiseer. “Ek het ʼn paar items met my kolibrie-ontwerp aan hulle oorhandig.”

Roets het haar tekening glo gebaseer op ‘n foto van R.W. Scott.

Roets sê hulle wou toe ʼn paar panele druk met dié ontwerp, maar die aanbod wat hulle aan haar gemaak het, was glo “belaglik”.

Sy het uiteindelik die aanbod aanvaar weens die blootstelling wat dit haar sou bied. Roets en die werknemer van Woolworths het uiteindelik op twee verskillende materiale ooreengekom en sy moes glo ses monsters aan hulle lewer. “Na twee maande het ek uiteindelik ʼn e-pos ontvang dat hulle wel die kussings gemaak het. Twee van die ses monsters is aan my teruggegee. Hulle het gesê hulle wil graag die ander vier kussings hou om die ontwerpe moontlik later in die jaar te gebruik.”

“ʼn Paar dae later het ek egter ʼn ander e-pos ontvang waarin hulle sê dat dit onwaarskynlik is dat hulle met enige nuwe ontwerpe sou voortgaan.”

Roets sê sy was geskok om ʼn paar dae later ʼn kussing, met ʼn soortgelyke kolibrie-ontwerp in Woolworths se tak by Cavendish Square te sien.

Brett Kaplan, besturende direkteur van klerasie en algemene handelsware by Woolworths, het egter in ʼn verklaring gesê die gebruik van voëls en kolibries is ʼn wêreldwye neiging wat hul ontwerp inspireer het. “Foto’s en tekeninge van kolibries in vlug lyk eenders, daarom lyk die ontwerpe bykans dieselfde,” het Kaplan in ʼn verklaring gesê.

Volgens Kaplan het Woolworths ʼn ontwerper van Durban in Augustus 2012 genader om dié neiging te interpreteer. “Dié ontwerp is reeds in November 2012 goedgekeur vir die kussings wat ons as deel van ons somerreeks vanjaar ontwerp het.”

“Ons het Roets se werk in Januarie vanjaar by ʼn mark gesien. Ons beskou haar as ʼn talentvolle kunstenaar. Ons het beplan om haar ontwerpe te gebruik in ons vakman-reeks wat plaaslike kunstenaars ondersteun. Ons het ʼn groot deel van haar werk gesien, insluitend haar kolibrie-ontwerp,” het Kaplan bygevoeg. “Ons ondersteun tans 17 ontwerpers in ons vakman-reeks. Dit is ʼn baie klein deel van ons besigheid en is hoofsaaklik daar om plaaslike talent te ondersteun. Die werk moet egter handelsvatbaar wees.”

“Ons moet presies weet wat die koste vir die ontwerper is sodat ons ʼn regverdige ooreenkoms met die kunstenaars kan bereik. Ons kon egter nie tot ʼn vergelyk kom met Roets nie. Ons het dus nie met die geleentheid voortgegaan nie.”

Kaplan sê hulle hoop om met Roets te vergader om die kwessie te bespreek.

Lees ook:
Woolworths moet retro-drankies onttrek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.