WP-spelers jammer hulle het geld gegooi

Rugbyspelers van die Westelike Provinsie het om verskoning gevra nadat hulle Dinsdag tydens hul oorwinningsparade geldnote van ‘n bus af na ondersteuners gegooi het.

Die Cape Argus het foto’s van die voorval geneem, insluitend een van vleuel Bryan Habana wat een van die note eers onderteken het voordat hy dit na die skare gegooi het. Werknemers van die Cape Argus het ten minste drie spelers gesien wat note na die skare in Khayelitsha gegooi het. Ondersteuners het geworstel om die geld in die hande te kry. Geen beserings is aangemeld nie.

Luisteraars en radio-aanbieders het Woensdag ‘n verskeidenheid menings oor die saak uitgespreek. Sommige meen dit is in swak smaak en neerhalend, terwyl ander gesê het hulle sien niks verkeerd daarmee nie.

Thelo Wakefield, president van die WP Rugby-unie, het om verskoning gevra. Hy het verduidelik dat die skare tydens die derde been van Dinsdag se oorwinningsparade die spelers vir geld gesmeek het, en gesê het dat hulle honger is. Note is na van die individue in die skare laat val. “Dit was miskien ‘n bietjie naïef van die betrokke spelers, maar hulle bedoeling was goed. Daar was verseker nie enige negatiewe bedoeling nie. Indien dit in enige ander manier ervaar word, vra ons om verskoning,” het Wakefield gesê.

WP het Saterdag vir die eerste keer in 11 jaar die Curriebeker gewen toe hulle die Haaie met 25 punte teenoor 18 in Kingspark, Durban geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize Mans ·

Kyk as dit nou fout soek is,dan is dit .Want ek sien niks daarmee verkeerd nie.Die spelers het nog n sagte hart vir die wat nie het nie.Doen so voort.Dit is nog altyd n goeie daad wat julle doen om julle medemens te help.Sterkte met julle Rugby,En omdat julle sulke goeie harte het,sal julle die Beker vir lank in die Kaap hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.