
Reddinspanne styg op van Tzaneen in Limpopo om na die wrakke van die twee Albatros-vliegtuie te vlieg nadat dit Dinsdagoggend op die Mamotswiri bergpiek aan die voet van die Drakensberg gevind is. Foto: Giordano Stolley/SAPA
‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse maritieme en lugvaartsoek-en-reddingsentrum, Johnny Smit, sê dit blyk of albei vliegtuie dalk in die berg vasgevlieg het, maar dit is nog nie bevestig nie. Hy sê dit is nog nie duidelik of daar enige oorlewendes is nie. Smith sê reddingswerkers is op pad na die wrakke. Die soektog na die twee vliegtuie wat Sondag tussen Tzaneen en die Randse lughawe vermis geraak het, is vroeg vanoggend hervat ondanks gure weer. Familielede van die passasiers aan boord die vliegtuie het vanoggend by die Mopani distriksmunisipaliteit se Rampbestuursentrum bymekaar gekom. Die Albatros- vliegtuie, met 13 mense aan boord, het vermoedelik in die George vallei-area tussen Polokwane en Tzaneen verlore geraak. Die Durbanse lugskou het gister bekendgemaak dat een van die passasiers op die twee vliegtuie een van sy koördineerders is. Volgens berigte is verskeie bekendes in die lugvaartbedryf en hulle gesinne, waaronder twee jong meisies, aan boord die vliegtuie.