Xander Bylsma toon géén berou – verslag

Xander Bylsma gedurende vandag se hofverskyning. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ʼn Maatskaplike werker het in ’n voorvonnisverslag van Xander Bylsma bevind dat hy geen berou vir die moord op sy voormalige vriendin Sharnelle Hough en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht toon nie.

Bylsma (21) word in die betrokke verslag as ʼn moeilikheidmaker beskryf wat geen respek vir ander het nie. Dít terwyl die moord op die meisies ʼn traumatiese impak op hul geliefdes gehad het.

Die maatskaplike werker beveel tronkstraf aan.

Vonnisoplegging is vir Woensdag tot Vrydag in die hooggeregshof in Mmbatho in Noordwes op die hofrol geplaas nadat Bylsma in Februarie skuldig bevind is op twee aanklagte van moord.

Maroela Media het vroeër berig Hough (17) en Engelbrecht (16) is gedurende die nag van 25 en 26 Mei 2018 in die hoërskoolkoshuis op Stella vermoor. Hough se liggaam is die oggend van 26 Mei aangetref waar sy met ’n tou om die nek aan ’n trapreling gehang het. Engelbrecht se liggaam is in ’n badkamer met ’n handsaklus om haar nek aangetref

Die staat het Woensdag Portia Pedinyane, maatskaplike werker van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling, as getuienis geroep om die voorvonnisverslag wat sy vroeër opgestel het, aan die hof voor te lees.

Pedinyane het verskeie onderhoude met Bylsma se ouers, Hough en Engelbrecht se ouers asook leerlinge wat Bylsma en die meisies geken het gevoer om die verslag te kon opstel.

‘Moelikheidmaker’

Luidens die verslag is Bylsma in 2011 na afloop van ʼn dissiplinêre verhoor by die Stella Gekombineerde Skool skuldig bevind aan die boelie en aanranding van ʼn leerder. Hy het glo ook vandalistiese optrede getoon.

Bylsma is toe in 2017 as matriekleerling weer dissiplinêr verhoor nadat hy in die besit van alkohol in sy koshuiskamer betrap is. Hy is destyds aan dié oortreding skuldig bevind en uit die skoolkoshuis geskors.

Sy ouers, Monté en Mercia Bylsma, het aangevoer dat hoewel die alkohol in sy besit gevind is, dit nié aan hul seun behoort het nie en dat hy dit bloot versteek het. In ʼn onderhoud met Pedinyane het Bylsma aangevoer dat hy nog nooit alkohol gedrink of gerook het nie.

‘Aggressief, gewelddadig’

Sharnelle Hough en Xander Bylsma. (Foto: Facebook)

Luidens die verslag het ʼn leerder ná die moorde Bylsma as gewelddadig, besitlik en ʼn beheervraat bestempel. “Hy het verder aangedui dat die oortreder voorheen sy oorlede meisie (Sharnelle) seergemaak het en dat sy kneusplekke aan haar liggaam gehad het.”

ʼn Ander leerder het beaam dat Bylsma Hough mishandel het.

Brandon Victor, Hough se kêrel ten tyde van die moorde, het op sy beurt in sy onderhoud aan Pedinyane gesê hy het al self gesien hoe Bylsma Hough mishandel het.

Bylsma ontken alle bewerings van mishandeling.

Volgens Victor het Bylsma gereeld Hough se bewegings dopgehou en van haar verwag om hom op hoogte te hou van haar bewegings. “Die oortreder is beskryf as ʼn persoon wat die oorledene (Sharnelle) gedreig het en aangedui het dat hy nie Sharnelle en Marna se vriendskap goedkeur nie.”

Luidens die verslag het Victor in sy onderhoud vertel dat Bylsma ook gedreig het om hom leed aan te dien sou hy nie vir Hough uitlos nie.

Monté het in sy onderhoud met die maatskaplike werker sy seun as ʼn persoon beskryf wat sal luister wanneer hy aangespreek word. “Die oortreder is beskryf as ʼn persoon wat sal wegstap wanneer hy kwaad is eerder as om dadelik aan die kwessie aandag te gee, maar oor die kwessie sal praat nadat hy bedaar het.”

Mercia het haar seun as ʼn persoon met ʼn sterk persoonlikheid beskryf. “Sy het verder aangedui dat die oortreder ʼn persoon is wat ʼn fout sal maak en later om verskoning sal vra.”

Gebroke families, vriende

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough. (Foto: Facebook)

Pedinyane het in die verslag bevind dat die moord op Hough en Engelbrecht ʼn groot impak op hul ouers en maats gehad het.

Luidens die verslag het Ronnie Hough, Sharnelle se pa, sedert die moorde sy werk bedank. Rianet Engelbrecht, Marna se ma, hou haar intussen besig met dinge wat haar aandag kan aftrek van haar dogter se dood.

Sonya Hough, Sharnelle se ma, sukkel moontlik met depressie ná die dood van haar enigste dogter terwyl Stefans Engelbrecht, Marna se pa, begin perd ry het aangesien sy dogter daarvoor lief was.

Pedinyane het verduidelik dat Rianka besluit het om Bylsma te vergewe om sodoende berusting te vind. Stefans is egter nie bereid om sy dogter se moordenaar te vergewe nie.

Volgens Pedinyane het leerders by die skool ná die moorde traumaberading ontvang. Een leerder het selfs intussen uit die koshuis getrek weens die moorde.

Pedinyane het in die verslag daarop gewys dat Bylsma geen berou toon vir die moorde óf die emosionele en traumatiese impak wat die moorde op Hough en Engelbrecht se ouers asook die breër gemeenskap het nie.

Sy beskryf hom as ʼn selfgesentreerde persoon wat nie verantwoordelikheid vir sy dade kan neem nie.

Hoewel die verdediging ʼn voorvonnisverslag versoek het, is daar besluit om nie die verslag by die hof in te dien nie nadat Bylsma sommige van die getuienis in dié verslag bevraagteken het.

Die vonnisverrigtinge duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

Kon nog nooit verstaan waarom die geen berou beginsel by vonnis oplegging , voorgehou word as straf verswarend teen diegene wat deurentyd volhou in hul onskuld nie . Dit maak geen sin nie .

Plaaskind ·

Daar is mense wat so erg versteurd en manipulerend is dat hulle hul eie liegstories begin glo.

Inkpot ·

Goeie beskrywing van ń arrogante, bedorwe klein nikswerd.
Hy was gereeld in die moeilikheid, maar het altyd onskuldig gepleit.
Sy ouers soek net so hard na verskonings. Hy word betrap met drank in sy besit wat hy kwansuis wegsteek.
Sy dade spreek vanself.
Die leed en pyn wat hy ander aangedoen het, is onvergeeflik.
Hy verdien elke dag van die tronkstraf wat hom opgelê word.

Jax ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg. Net nog een met te veel ego en nul omgee. Ek kan my nie eens probeer indink hoe die dames se ouers voel nie. Ek sal my kop verloor as so iets met my kinders gebeur! As een van my kinders so iets aan n ander doen, sal ek seker maak dat hy/sy opgesluit word vir ewig en ek sal myself laat opsluit omdat ek gefaal het in my ouerskap!
Dit voel en lyk of ouers deesdae watte groot maak. Ons het sterker en beter opgevoede jeug nodig. Nie sulke tipe mense wat nie in n opgevoede samelewing hoort nie. Ek lees elders dat die seun se ma sê sy bekommer haar oor haar kind – of hy ok is en of hy nog leef. Sy het nog n kind. Daai dametjies se ouers het nie meer hul kind nie.

Rudolph ·

Hierdie is soms die uitkoms wat ons kry wanneer ons kinders leer dat sekere lewens minder werd is as ander en dit dus aanvaarbaar is om daardie minderwaardige lewens te neem. (Xander is van ‘n jong ouderdom af geleer hoe om te jag) Die geskiedenis het telkens bewys dat kinders wat geleer word om op ‘n onberouvolle wyse teiken te skiet op weerlose diere kan later slagoffers maak van ‘minderwaardige’ weerlose mense.
Hierdie is ‘n pleidooi aan ouers, moet asseblief nie u kinders aanmoedig om deel te neem of hulle blootstel aan sulke geweldadige aktiwiteite nie. Hulle is emosioneel te onvolwasse om sulke traumatiese gebeure te verwerk. My pa het my as jong kind meer as 50 jaar gelede daaraan blootgestel en sukkel vandag nog om daardie onnatuurlike geweldadigheid te verwerk. Dit het my verhouding met my pa permanente skade besorg

Francois ·

My dogter is 21, en reeds van die begin van haar hoërskooldae het sy gereeld vir my vertel van hoe seuns hulle meisies fisies en verbaal aanrand en verkleineer in die geselskap van ander, en net eenvoudig nie kan verstaan wat daarmee verkeerd is om so op te tree nie. Sy was later self in so ‘n verhouding terwyl sy ook in die koshuis was en ons heeltemal onbewus was daarvan, en sy ook maar nie geweet het hoe om daar uit te kom nie agv sy dreigemente. Selfs nou is daar mans studente wat hulle meisies vloek en kwaad word as hulle tereggewys word deur vriende. Lyk vir my dit raak al meer akgemeen – hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.