Yengeni word glo nie geteiken

Tony Yengeni. Foto: SAUK

Owerhede van die DA-beheerde stad Kaapstad ontken dat hulle Tony Yengeni, die nasionale uitvoerende komiteelid van die ANC, “teiken” nadat hy Sondagaand glo weens dronkbestuur in hegtenis geneem is.

JP Smith, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê Yengeni was een van 52 mense wat oor die naweek vir verkeersoortredings in hegtenis geneem is, het die Cape Argus Dinsdag berig.“Verkeersbeamptes het ʼn Maserati, wat deur Yengeni bestuur is, onreëlmatig sien ry. Die voertuig het ook net een nommerplaat gehad,” het Smith gesê.

“Die beamptes het ʼn toestel gebruik om die voertuig se spoed te bepaal, en gesien die voertuig het die spoedbeperking verontagsaam. Dit was genoegsame rede om hom in hegtenis te neem en na die sentrum in Athlone te neem.” Bloedtoetse wat geneem is het glo bewys dat sy bloedalkoholvlak hoër as die minimumbeperking is.

Volgens Smith sal beeldmateriaal van Yengeni se inhegtenisname, voor en ná die tyd, beskikbaar gemaak word om te bewys dat beamptes genoegsame rede gehad het om hom in hegtenis te neem.

Yengeni is Sondagaand om 23:00 op die hoek van Somerset- en Dixonweg in Kaapstad in hegtenis geneem vir spoedoortreding asook moontlike dronkbestuur. Hy is deur die Kaapstad-sentrale polisie aangehou en Maandag op borgtog van R500 vrygelaat. Hy moet volgende jaar op 4 Maart in die hof verskyn in verband met die voorval.

Yengeni is ook in 2007 in Goodwood in Kaapstad in hegtenis geneem nadat hy glo onder die invloed van alkohol bestuur het. Hy was toe ook op R500 borgtog vrygelaat en is uiteindelik deur die hof vrygespreek. In dié stadium was hy uit op parool nadat hy in 2003 skuldig bevind is aan bedrog nadat hy nie ʼn 47%-afslag op ʼn 4×4 Mercedes-Benz aan die parlement bekend gemaak het nie.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willy ·

Nou soek hy verskonings om nie verantwoordelik gehou te word vir sy dade nie. Hy is een wat soos kroonwild behandel word. Hierdie keer moet hy boet vir sy dade.

Johan Viljoen ·

Hulle moet die skelm permanent uit die samelewing verwyder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.