Yoshi vind haar tuiste ná duisende kilometers

Yoshi, die karetskilpad toe sy nog in die Twee Oseane-akawarium in Kaapstad was. (Foto: Jean Tresfon)

Yoshi, die beroemde karetskilpad wat byna drie jaar gelede ʼn ent van Kaappunt vrygelaat is, het haar tuiste langs die Eighty Mile-strand in Wes-Australië gevind.

Dít ná sy 40 011 km afgelê het om daar te kom.

“Ek is verheug dat sy ʼn veilige omgewing as tuiste gevind het. Die Aussies is uitstekende gashere, en nou is hulle soos familie,” sê Maryke Musson, uitvoerende hoof van die Twee Oseane-akwarium-onderwysstigting, wat ook Yoshi sedert haar vrylating dopgehou het.

Maroela Media het vroeër berig dat Yoshi in Februarie ʼn gemiddeld van 48 km per dag geswem het. Sy het egter vir die afgelope twee maande slegs 12 km per dag afgelê. Kenners meen dis omdat Yoshi ná die maande lange reis eindelik in bekende waters is en moontlik gereedmaak vir vanjaar se broeiseisoen.

“Ek hoop dat haar opsporingstoestel nog ʼn paar maande sal hou, sodat ons eindelik kan sien of sy ʼn bydrae sal lewer tot die karetskilpadbevolking,” sê Musson.

“Die neste is ongeveer 1 300 km wes van haar. Sy het bewys dat sy ʼn uitstekende atleet is, dus is dit ʼn afstand wat sy gemaklik voor die somer kan aflê.”

Yoshi se reis van Suid-Afrika na Wes-Australië. (Grafiek: Twee Oseane-akwarium)

Yoshi se 982 dae en 40 011 km lange oseaantog is een van die langste seeskilpadreise wat nog ooit gevolg is, asook die langste afstand wat ʼn seedier al afgelê het wat deur ʼn opsporingstoestel gemeet is.

“Dit is beslis nie die einde van Yoshi se ongelooflike reis nie, maar ons nader die einde van ons vermoë om haar te monitor. Wat sy ook al besluit, een ding is seker: Suid-Afrika het nog nie die einde van die Yoshi-familie gesien nie.”

Yoshi se herkoms

Daar is aanvanklik bespiegel dat Yoshi van die noordwestelike of suidwestelike Indiese Oseaan se karetskilpadbevolking en dus van Oman of KwaZulu-Natal afkomstig is. Dit blyk egter dat sy van die Suidoos-Indiese Oseaan-bevolking van Wes-Australië af kom.

Toe sy die Indiese Oseaan bereik het, het haar spore ʼn soortgelyke roete getoon as dié van pasgebore skilpaaie uit Wes-Australië, maar net omgekeerd. As jongeling sou sy die strome van Haaibaai of Ningaloo in Wes-Australië in die rigting van Madagaskar gevolg het. Dit is moontlik dat Yoshi in hierdie omgewing in 1997 deur die Japannese vissersboot gevind is, waarna sy na Suid-Afrika geneem is.

Yoshi se nalatenskap

Yoshi tydens haar vrylating in 2017. (Foto: Olivia Anderson/Twee Oseane-akwarium)

Talitha Noble, bewaringskoördineerder by die Twee Oseane-akwarium, het destyds met Yoshi se vrylating gesê dat sy ʼn Yoshi-grootte gat in die oseaan-uitstalling gelos het.

Geïnspireer deur die suksesvolle rehabilitasie en vrylating van Yoshi, het dié akwarium se reddingspogings, rehabilitasie en vrylating van skilpaaie verdubbel. Dit het uitgeloop op ʼn volwaardige skilpadreddingsprogram by die Twee Oseane-akwarium-onderwysstigting.

Dié program stel jaarliks honderde gerehabiliteerde seeskilpaaie vry en leer kinders om die oseaan te beskerm deur geïntegreerde opvoedkundige programme.

“Yoshi se reis terug in die natuur het nie net ons almal betower nie, maar ons ook met ongelooflike wetenskaplike gegewens gelaat,” sê Michael Farquhar, uitvoerende hoof van die Twee Oseane-akwarium.

“Om diere soos Yoshi na te spoor is fassinerend en gee ons waardevolle inligting waarmee ons hulle beter kan beskerm, asook mense oor die bedreigde spesie kan opvoed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Charles ·

Dit is ʼn baie interessante verhaal van Yoshi, die karetskilpad!! Dankie aan die Twee Oseane akwarium wat ons natuurlewe vir die nageslag bewaar!!

Snowball ·

Yoshi, in my hart hoop ek jy lê eiers by dosyne en reis nog derduisende kilometers.

Cherokee ·

Nou gaan sy kinders hê.. en kleinkinders.. en agter kleinkinders. Sy gaan hulle vertel dat sy in Kaapstad, Suid Afrika groot geword het. Tussen mense!!!! Dat sy heel dag mense deur glas vensters beskou het. Dat sy mense nagevors het, en baie weet van mense se gewoontes.. dat hulle nie soos skilpaaie na mekaar lyk nie, maar nogal verskillend, behalwe vir die vorm wat basies dieselfde is… en daarna alleen ‘n laaang tog aangepak het terug huis toe. Die nageslag se ore gaan gespits wees en hulle gaan om haar skaar om meer te hoor.

christo ·

Goeie nuus. Dit sal interessant wees as daar voortgegaan kan word met die monitering.

Realis Thailand ·

Kan ons maar nie meer sulke goeie stories van lees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.