Ys in haar are – SA’ner laat die rekords in Noorweë spat

Suid-Afrika se Amber Fillary glimlag groot in Noorweë ná haar suksesvolle ysswemsessie. (Foto: Verskaf)

Met haar TYR-swemdrag, swemkappie en -brilletjie is Amber Fillary ʼn anomalie tussen die paar omstanders wat in wintersbaadjies en musse gepantser staan teen die weer.

In die Noorse dorpie Kongsberg kan daar jaarliks tot 69 cm sneeu val en die kwik kan na ʼn tandeklap-minimum van -9 °C (of baie laer) daal.

Skielik spring die Suid-Afrikaner in ʼn gat in die ys waar donkerblou water ʼn koue en onheilspellende prentjie skets. ʼn Paar berekende skoppies en armbewegings later trek sy haar asem diep in en verdwyn onder die water.

Ná presies 100 m onder die ysplafon kom die Kapenaar weer te voorskyn. Dié keer met ʼn Guinness-wêreldrekord agter haar naam.

Fillary is amptelik die persoon wat die verste onder die ys met net een asemteug – natuurlik sonder enige skubaduikhulpmiddels – kan swem.

Die volgende dag (ʼn Sondag) is sy weer terug. Sy swem éérs 105 m en tóé 110 m.

“Ek is nog altyd mal oor die water. Ek wil net swem en ʼn vryduiker sonder enige toerusting wees,” het Fillary Dinsdag, ʼn paar dae ná haar rekordsessies, aan Maroela Media gesê.

Sy erken dat die senuwees maar lekker knaag in aanloop tot só ʼn rekordverbeterpoging.

“Fisiek voel ʼn mens ook nie te waffers nie, maar sodra jy in die water spring, verdwyn die senuwees soos mis voor die son. Die water is as’t ware my terapie.”

Moet ook nie dink sy is bang wanneer sy eers begin swem nie – aikôna, dan is sy die ene kalmte.

“Ek weet darem dat daar veiligheidsduikers saam met my in die water is, terwyl daar ook gate in die ys geslaan is. Maar dit is deurslaggewend om so kalm moontlik te probeer bly.”

Volgens Fillary het die pad na die Guinness-rekord nie noodwendig ʼn maklike roete gevolg nie. Haar aanvanklike poging was onsuksesvol. Dan het knieprobleme en ʼn voorval toe sy haar bewussyn verloor het, ook al vantevore tot die drama bygedra.

“Ek het so baie lesse geleer. Op die ou einde staan die rekord weliswaar agter my naam, maar dit is eintlik die mense wat my bygestaan het wat die grootste klop op die skouer verdien.”

Om vir haar ysige swemsessie voor te berei het sy ʼn hele paar keer in ʼn ysbad geklim, in Suid-Afrika voorberei en na Berlyn gereis om daar in die koue mere te swem.

“Die Berlyn-avontuur het egter nie so goed gewerk nie. Die water in Duitsland was ongeveer 6,5 °C; in Noorweë was dit veel kouer.”

Die 51-jarige se lewenservaring sorg ongetwyfeld ook vir ʼn bietjie vuur in die ysige water. Sy het al immers teleurstelling, verslawing en depressie oorkom.

“Dit maak nie eintlik saak hoe die uitdaging lyk wat jou in die gesig staar nie. Met genoeg vasberadenheid kan jy jou drome bewaarheid.”

Watter avontuur wil sy volgende aanpak?

“Ek wil graag weer verf; dalk ʼn kunsuitstalling of so iets hou. Terselfdertyd wil ek ook mense motiveer, veral ná my stryd met depressie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.