Ysbeer vrek weens zebra-virus

Dieretuine kan, net soos kleuterskole, vrugbare grond wees waar allerhande kieme kan uitbroei, het ‘n ongelukkige dieretuin in Duitsland onlangs uitgevind.

Een van die ysbere het in 2010 by die Wuppertal-dieretuin skielik gevrek ná ‘n reeks onverklaarbare epileptiese toevalle, berig The Scientist. ‘n Nadoodse ondersoek het bevind dat die dier enkefalitis, of breinswelling, ontwikkel het. Die dieretuin het vermoed die dier het moontlik ‘n virale ontsteking opgedoen.

Twee jaar en ‘n hele paar genetiese toetse later, het ‘n navorsingspan onder leiding van Alex Greenwood van die Leibniz-instituut in Berlyn bevind dat ‘n perdeaborsie-virus moontlik die oorsprong kan wees. Die virus se natuurlike gashere is lede van die perde-familie wat zebras en donkies insluit. Aangesien die zebras meer as 60 meter van die ysbere gehuisves word, kon beamptes van die dieretuin nie verklaar hoe die ysbeer die virus opgedoen het nie. Hul grootste bekommernis is egter tot watter mate soortgelyke gevalle bewaringsprogramme by dieretuine kan beïnvloed. “Een doel van dieretuine is om diere te bewaar, en virusse wat só van een spesie na ‘n ander kan migreer dui daarop dat dié doel bedreig kan word indien hulle ongesiens verbygaan,” het Greenwood gesê. Ed Yong, ‘n gereelde rubriekskrywer vir The Scientist, het gesê dié virus het reeds tot die sterfte van ander diere, insluitend bere, marmotte en gemsbokke, gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.