Ysterman-sterftes: Atlete het glo nie hartprobleme gehad nie

Atlete spring weg by die Ystermankompetisie in Florida, Amerika

Dr. Izak Maree, mediese praktisyn by die Spec-Savers Ystermankompetisie in Oos-Londen, het bevestig dat die twee mans, wat Sondag by dié geleentheid dood is, hartaanvalle gehad het.

World Endurance Africa het gesê dat Waterveiligheid die atlete op die toneel en in die mediese tent behandel het. Die twee mans is toe na St Dominic’s-hospitaal geneem vir spesialisbehandeling. Na verdere ondersoek by die hospitaal, is die mans dood verklaar.

Kragtens die besonderhede wat die twee atlete op hul aansoekvorms vir die Ysterman 70.3 voltooi het, het nie een van hulle ‘n geskiedenis van hartkwale of enige ander mediese toestande gehad nie.

“Ons sal tydens die prysuitdeling ‘n minuutlange stilte hou ter nagedagtenis aan die atlete en hul gesinne. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie dat só iets gebeur. Ons innige meegevoel aan die families,” het Keith Bowler, besturende direkteur van World Endurance Africa, gesê.

“As borg is ons platgeslaan dat twee individue, wat aan die Ysterman 70.3 as ‘n gesonde en uiterste sport deelgeneem het, hul lewens verloor het. Ons betuig ons meegevoel met die atlete se families en vriende en ons laat ons Spec-Saver-vlae halfmas hang om respek te toon. Ons het ook ons vlae by die eindstreep afgehaal,” het Bryan Dowley, hoof uitvoerende beampte van Spec-Savers, gesê.

Die name van die atlete sal moontlik eers bekendgemaak word wanneer die naasbestaandes in kennis gestel is.

Intussen het Bart Aernouts van België die Ysterman-kompetisie met ‘n tyd van 04:03:53 gewen. Ronnie Schildknecht van Switserland was tweede met 04:06:23 en Tim Don van die Verenigde Koninkryk het die derde plek behaal met 04:10:40.

In die vroue-afdeling het Jodie Swallow van die Verenigde Koninkryk die eerste plek met 04:34:30 behaal, Susie Hignett, ook van die Verenigde Koninkryk, het tweede plek behaal met 04:43:38 en Lucie Reed van Tsjeggië was derde met 04:44:19.

Bykans 3 000 atlete van 30 verskillende lande neem aan die kompetisie deel. Atlete moet 1.9km ver swem, 90km fietsry en ‘n half marathon hardloop. Die kompetisie duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.