Volgens ʼn berig in The Star het die organisasies die spotprent as ʼn “flagrante disrespek en swartsmeerdery van ons glorieryke Hindoe-geloof” beskryf. Die spotprent is op Zapiro se webtuiste en in die Sunday Times gepubliseer. Dit wys Ganesh wat ʼn krieketkolf en geldnote vashou terwyl Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), vasgebind is op ʼn altaar en met ʼn mes gesteek word as ʼn offerande. Die spotprent verwys na KSA se besluit om Lorgat te skors vir die duur van Indië se kriekettoer na Suid-Afrika ten einde te verseker dat die toer voortgaan. Volgens die berig gaan van die organisasies klagte aanhangig maak oor die spotprent aangesien dit wys op ʼn gebrek aan respek vir godsdienstige oortuigings.
Om die spotprent te sien, klik hier.