Zille gee Zuma 72 uur oor Nkandla

DA-leier Helen Zille is gister verbied om president Jacob Zuma se huis in Nkandla te besoek. Die foto is deur @ewnreporter op Twitter gelaai.

Die DA-leier Helen Zille het president Jacob Zuma 72 uur gegee om besonderhede te verskaf oor sy huis in Nkandla nadat sy en ander partylede gister verbied is om ‘Zumaville’ te besoek.

Zille sê die DA het op 16 Oktober ʼn skrywe aan Zuma gerig waarin die party vra vir die waarheid oor Nkandla. “Ons het gevra vir besonderhede oor hoeveel spandeer is, op wat, deur wie, en onder die vaandel van watse wet. Vandag gee ons Zuma en sy regering 72 uur om te reageer. Indien ons nie ʼn wesenlike antwoord kry teen die einde van Woensdag nie sal ons regsverteenwoordigers hom en die regering hof toe neem oor wat nou bekendstaan as Nkandlagate, ” het Zille gister gesê nadat sy en ʼn afvaardiging van die DA verbied is om Zuma se huis te besoek. Zille het Nkandla beskryf as die monument in die stryd teen korrupsie. Die DA-leier het ook ʼn klag oor ʼn onwettige byeenkoms by die plaaslike polisiekantoor ingedien.

Die polisie het Sondag aan Zille gesê dat sy nie na Zuma se huis kan gaan nie aangesien daar ANC-ondersteuners is wat die pad versper. Sy sê haar party het toestemming gekry om by ʼn openbare pad buite ʼn skool oorkant Zuma se huis bymekaar te kom. Die polisie het egter geweier om haar deur te laat en gesê hulle wil keer dat daar geweld uitbreek. Verskeie motors wat ANC-ondersteuners vervoer het egter verby Zille hulle gery. Toe Zille aan die polisiebeamptes gevra het hoekom hulle mag verbygaan, het die polisie aan haar gesê dat hulle ʼn saak aanhangig sal maak teen die organiseerders van die ANC-optog. Sowat 700m van waar Zille en ander DA-lede gestop is, het die polisie ANC-ondersteuners gekeer om vorentoe te beweeg. Die polisiebeamptes het ʼn ketting oor die pad gevorm om die ondersteuners terug te hou. Die SABC het vroeër berig dat ʼn man in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen nadat ʼn skoot in die lug gevuur is tydens die optog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.