Zim-appèl van hand gewys

Die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein het pas ’n appèl van die Zimbabwiese regering, wat daarop gemik was om die geregtelike verkoping van ʼn eiendom te stuit, met koste van die hand gewys.

AfriForum se regspan gaan die Balju in Kaapstad dié week nog opdrag gee om voort te gaan met reëlings vir die verkoping van die eiendom van die Zimbabwiese regering in Salisbury-weg, Kenilworth, Kaapstad.

Dit sal waarskynlik die eerste maal in die internasionale regsgeskiedenis wees dat daar voortgegaan word met die geregtelike verkoping van ’n eiendom van ’n staat wat hom aan growwe menseregtevergrype skuldig maak.

Die Zimbabwiese regering het vroeër geappelleer teen die Noord-Gautengse Hooggeregshof se registrasie en afdwinging van ’n bevinding van die SAOG-tribunaal waarin bevind is dat Zimbabwe se grondgryp-program onwettig en rassisties is. As gevolg van die weiering van die Zimbabwiese regering om gehoor te gee aan die tribunaal se bevinding is ’n bestraffende kostebevel deur die tribunaal teen daardie regering toegestaan. Die beslaglegging op die Zimbabwiese eiendom (’n woonhuis in Salisbury-weg, Kenilworth) is uitgevoer om gevolg te gee aan die bestraffende kostebevel.

Die regsaksie het begin toe ’n boer van Zimbabwe, mnr. Mike Campbell, in 2008 geslaag het met ’n aksie teen die Zimbabwiese regering voor die SAOG-tribunaal in Windhoek. Die tribunaal, wat destyds saamgestel was uit vyf regters van verskillende Suider-Afrikaanse state, het in November 2008 beslis dat die Zimbabwiese grondhervormingsproses onwettig en rassisties is en dat mnr. Campbell en 77 ander boere wat by sy aksie betrokke geraak het, met rus gelaat moes word.

In die aanloop tot die verrigtinge voor die SAOG-tribunaal, is die bejaarde mnr. Mike Campbell, sy vrou, Angela en sy skoonseun Ben Freeth, wreed deur oorlogsveterane aangerand en geïntimideer om hulle aksie voor die tribunaal te staak. Die saak het egter voortgegaan en Campbell het geslaag, maar weens die erns van sy beserings tydens die wrede aanranding, het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan en is hy April verlede jaar oorlede.

AfriForum het boere van Zimbabwe bygestaan met ’n regsproses wat in Februarie 2010 uitgeloop het op die registrasie van die tribunaal se bevinding in ’n Suid-Afrikaanse hof en die beslaglegging op ’n eiendom van die Zimbabwiese regering in Kenilworth Kaapstad, ter delging van ’n bestraffende kostebevel van die tribunaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.