Zim-dosent gevonnis vir ‘laster’

Robert Mugabe

‘n Dosent by ‘n regeringsuniversiteit in Zimbabwe is drie maande tronkstraf opgelê nadat hy pres. Robert Mugabe glo ‘n “vrot ou donkie” genoem het.

Chenjerai Pamhiri (38), ‘n dosent by Great Zimbabwe State University in Masvingo, is Vrydag deur ‘n landdros gevonnis, het Zimbabwe se prokureurs vir menseregte gesê. Aanklaers voer aan dat Pamhiri, terwyl hy verlede week inkopies gedoen het by ‘n plaaslike supermark, geskree het Mugabe is “vuilgoed wat weggegooi moet word, ‘n vrot ou donkie”. Hy het mense glo ook aangemoedig om nie vir Mugabe tydens die verkiesing later vanjaar te stem nie.

Die polisie het hom in hegtenis geneem toe hy uit die winkel gestap het.

“Ons het die onstellende nuus oor sy skuldigbevinding en vonnis ontvang en ons het hom dadelik te hulp gesnel,” het Kumbirai Mafunda, woordvoerder vir die menseregteprokureurs, aan AFP gesê. “Ons prokureurs sal appèl aanteken teen die vonnis en ‘n aparte aansoek indien vir borg terwyl ons wag op die appèl.”

Inhegtenisnemings vir laster jeens Zimbabwe se president en ‘n breuk van die streng Wet op Openbare Orde is algemeen en diegene wat skuldig bevind word, ontvang gewoonlik ligte vonnisse, boetes of word beveel om gemeenskapsdiens uit te voer.

Mafunda sê menseregteprokureurs het alreeds meer as 60 soortgelyke sake sedert 2010 aangeteken.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.