Zim: Misdade teen die mensdom-saak gemaak

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe

Misdade teen die mensdom wat onder president Robert Mugabe in Zimbabwe gepleeg word, word voortdurend deur gesaghebbende menseregteorganisasies aan bod gebring. Reeds tydens die Gukurahundi-slagting in 1983-1987 en gedurende plaasbesettings het hierdie misdrywe voorgekom, maar geen van die oortreders is in Zimbabwe of elders in ʼn hof tot verantwoording geroep nie.  Hierdie stand van sake gaan nou verander.

Maandag is ʼn saak betreffende menseregtevergrype teen kommersiëleplaaswerkers en boere deur die burgerregte-organisasie AfriForum by Suid-Afrika se Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien.

Ingevolge ʼn besluit van Suid-Afrika se Appèlhof op 27 November, is die SAPD regtens verplig om misdade teen die mensdom te ondersoek, ongeag waar dit gepleeg is.

Die beëdigde verklarings en bewysstukke wat versamel is, hou verband met mense wat Zimbabwiese kommersiële plase beset terwyl hierdie plase beskerm is deur ʼn internasionale hofbevel wat in 2008 deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se tribunaal uitgevaardig is.

Die waterskeidingsaak waarvoor die bevel toegestaan is, was Mike Campbell (Pvt) Limited en 78 ander v die Regering van die Republiek van Zimbabwe.

Die beëdigde verklarings stel op rekord erge aanranding, gevangehouding op grond van ongegronde of onjuiste aanklagtes in onmenslike toestande, die doodskiet van plaaswerkers en boere, diefstal van huise, afbrand van plaashuise en die huise van werkers, huise wat met petrolbomme bestook is en doodsdreigemente teen boere en hulle werkers.

Ander misdade sluit in diefstal of vernietiging van persoonlike eiendom, beskadiging van oeste wat nog op die land was of wat reeds ingebring is, die doelbewuste verhongering, verminking of diefstal van vee en die vernietiging van die lewensmiddele van beskermde persone.

In al die kommersiële boerderydistrikte was die modus operandi dieselfde, wat aandui dat ʼn voorafbeplande strategie wat op senior vlak geformuleer is doelbewus en planmatig deur die oortreders uitgevoer is. Laasgenoemde sluit in ministers in die Zimbabwiese regering, lede van die polisiemag en lede van die weermag.

“Uit die bewysstukke, is dit duidelik dat ʼn wydlopende, planmatige en volgehoue aanval deur die ZANU PF-regering teen hierdie burgerlike groep geloods is,” sê Willie Spies, AfriForum se regsadviseur.

“Die misdade was ʼn flagrante skending van Zimbabwiese hofbevele en die bevel van die SAOG-tribunaal wat die slagoffers moes beskerm het,” het hy gesê.

Misdade teen die mensdom

Ingevolge artikel 7 van die Statuut van Rome van die Internasionale Strafhof, behels dade wat deel vorm van ʼn wydlopende of sistematiese aanval op enige burgerlike bevolking, met kennis van die aanval, misdade teen die mensdom.

Die lys sluit in moord, marteling, gevangehouding of ander erge ontneming van fisieke vryheid wat teenstrydig is met die fundamentele reëls van die internasionale reg, verkragting, vervolging van enige herkenbare groep, gedwonge verdwyning van mense of ander soortgelyke onmenslike dade wat doelbewus groot lyding of ernstige skade aan liggaamlike, geestelike of fisieke gesondheid veroorsaak.

In ʼn verslag If Something is Wrong – the Invisible Suffering of Commercial Farm Workers and Their Families due to ‘Land Reform’ wat in November 2009 deur die General Agricultural and Plantation Workers’ Union (GAPWUZ) uitgereik is, word die volgende skending van plaaswerkers se menseregte aangedui:

Marteling (65%), doodsdreigemente (54%), aanranding (44%), gedwing om aanranding gade te slaan (43%), ontvoering (30%), kinders wat gedwing is om aanranding gade te slaan (29%), as gyselaars aangehou (24%), arrestasie sonder dat ‘n klag gelê is (20%), onwettige aanhouding (13%), permanente beserings wat toegedien is (11%), moord (2%).

Die dossier

Die dossier bevat vier en twintig beëdigde verklarings, ses van voormalige kommersiële boere en die res van hulle voormalige plaaswerkers.  Dit bevat ook bewyse van polisieverslae en mediese verslae, waar beskikbaar, en fotografiese bewyse van misdade teen die mensdom.

In een verklaring wat oor polisiebrutaliteit handel, is sewe werkers deur polisiebeamptes opgelaai, dwarsdeur die rit tot by ʼn bepaalde polisiestasie aangerand en gedurende hulle aanhouding met ʼn kabel en knuppels geslaan.

Die meeste van die verklarings bevat ‘n verslag van marteling wat deur die verklaarder en/of ‘n familielid of kollegas ervaar is. Voorbeelde sluit in houe oor die kop met ʼn geweerkolf wat skedelbreuk tot gevolg gehad het, of houe op die voetsole met ʼn sambok, stompe, kabels of ysterstawe.  Hierdie soort marteling staan as “falanga” bekend en kan dodelik wees.

Een van die plaaswerkers verklaar dat hy met ʼn ysterstaaf oor die kop geslaan is en nadat sy aanvaller op hom geürineer het, het hulle hom in ʼn vuur gegooi wat hulle in ʼn oop vuurherd gemaak het.

In twee afsonderlike insidente is die verklaarders geskiet en ernstig gewond, sodanig dat hulle uitgerekte mediese behandeling nodig gehad het.  Op een plaas het 15 werkers skietwonde opgedoen. Op ‘n ander plaas het ‘n polisiebeampte ‘n werker geskiet wat probeer het om sy werkgewer te help om persoonlike eiendom van die plaas te verwyder. Hy het ernstige beserings opgedoen waarvoor hy sewe operasies en ʼn veloorplanting nodig gehad het.

Elke aanval op die verklaarders het verband gehou met die bevordering van die sogenaamde versnelde grondhervormingsprogram.  In elke geval was die ontvangers van hierdie SAOG-beskermde kommersiële plase – of hulle werknemers – betrokke by die vervolging van die verklaarders.

Die oortreders

Die saak maak melding van altesaam 58 mense wat by misdade teen die mensdom op hierdie SAOG-beskermde plase betrokke was. Almal behoort ondersoek te word.

Die name word onder twee hoofde gegroepeer: Direkte Aanspreeklikheid en Bevelvoerende Aanspreeklikheid.

Diegene wat direk verantwoordelik is, sluit in ʼn senator, ʼn voormalike minister van die Zimbabwiese regering en sy seun, ʼn adjunkgoewerneur van die Reserwebank, polisiebeamptes van verskeie range en weermagpersoneel.  Diegene met bevoelvoerende aanspreeklikheid sluit in ministers, twee lede van die Gesamentlike Operasionele Bevel en senior polisiebeamptes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elize Mans ·

Ja dit sal n seen wees,as Mogabi aan geklae word.Ek het al gedink hy is bo alle wette verhewe.

Jasper ·

Dit gaan n opdraende pad wees om te stap, maar ek is bly iemand doen iets daaromtrent.

Henko ·

Dit gaan my verstand te bowe dat Mugabe steeds nie uit die kussings gelig kan word nie. Sy mense krepeer van ellende terwyl hy luuks lewe.

Kan ons nie die RSA se president ook aankla nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.