Zim-stemme word getel

Die verkiesingskommissie in Zimbabwe is tans besig om stemme te tel ná Woensdag se verkiessing, te midde van beskuldigings van knoeiery.

Die 89-jarige Mugabe is Afrika se oudste leier en poog tydens die verkiesing om hom vir sy agtste termyn in die amp van president te vestig. Sy teenstaander, Morgan Tsvangirai van die MDC, hoop die verkiesing sal die land in ʼn nuwe era in stuur.

Hoewel daar geen berigte van noemenswaardige geweld in die verkiesing was nie, moes polisiebeamptes in Harare in ʼn stadium waarskuwingskote in die lug vuur en 10 soldate in hegtenis neem wat glo probeer het om voor in die ry in te druk om te stem.

Talle kiesers het van die vroeë oggendure begin toustaan om hul kruisies te trek. Mugabe het kort voor 12:00 in Harare vir homself gestem.

Tsvangirai se party het Woensdag ʼn lys van beweerde ongerymdhede bekend gemaak, onder andere dat die name van duisende kiesers nie op die kiesersrol verskyn het nie. Die name van 2 miljoen mense, wat dood is, se name het wel op die kiesersrol verskyn, maar die verkiesingskommissie het gesê “omdat die mense dood is, sal hulle nie kan stem nie”.

Die MDC het hul bewyse aan die waarnemers van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) oorhandig.

Die Afrika-unie, wat beskuldig word vir verskeie probleme in die aanloop tot die verkiesing, het gesê voorlopige berigte dui daarop dat die verkiesing “vreedsaam, ordelik, vry en regverdig” was.

Die uitslag van die verkiesing sal na verwagting oor vyf dae bekend gemaak word.

Intussen het die polisie in Zimbabwe gewaarsku dat hulle enige persoon of groep in hegtenis sal neem wat uitslae van die verkiesing bekend maak wat nie amptelik uitgereik is nie. “Enigiemand wat die uitkoms van die verkiesing bekend maak voor die ZEC (die Verkiesingskommissie in Zimbabwe) dit amptelik doen, loop die risiko om in hegtenis geneem word,” het Charity Charamba, ʼn polisiewoordvoerder, aan joernaliste gesê.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kaspaas ·

Sal dit nou nie antwoord op gebed wees as Malema se (d)rolmodel – Uncle Bob – ‘n goeie pakslae in die verkiesing kry nie ? Dan gaan onskuldige mense se bloed ook weer vloei soos die vorige keer wat hy in die eerste van 2 verkiesings verloor het.

JB ·

UNCLE BOB gaan beslis wen! Hy het gesorg daarvoor. Daar was so geknoei en regverdig beslis nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.