Zim-verkiesing: Beampte vas nadat hy asblik-stembriewe aanmeld

Morgan Tsvangirai

Die polisie in Zimbabwe het Sondag een van Morgan Tsvangirai se assistente in hegtenis geneem nadat hy ʼn onreëlmatigheid in die vroeë stem aangemeld het.

Die Movement for Democratic Change (MDC) het gesê Morgan Komichi is in hegtenis geneem nadat hy die verkiesingskommissie in kennis gestel het dat stembriewe vir Tsvangirai in ʼn asblik opgespoor is nadat soldate en polisiebeamptes op 14 en 15 Julie aan ʼn spesiale vroeë stem deelgeneem het.

Die spesiale stem is gereël vir beamptes wat op die dag van die nasionale verkiesing [31 Julie] moet diens doen en dus nie hul stem op daardie dag sal kan uitbring nie.

“Komichi, ons adjunk nasionale voorsitter en adjunk minister van vervoer, is omstreeks 06:00 deur polisiebeamptes by sy huis aangekeer,” het Nelson Chamisa, woordvoerder vir die MDC, gesê.

Charity Charamba, woordvoerder vir die polisie, het die inhegtenisneming bevestig.

Komichi het ʼn koevert vol stembriewe, wat ten gunste van Tsvangirai gemerk is, aan die verkiesingspaneel oorhandig. Die MDC sê ʼn hoop van dié stembriewe is in ʼn asblik by die konferensiesentrum, waar die vroeë stem plaasgevind het, opgespoor.

Die polisie dreig nou egter om Komichi aan te kla dat hy die verkiesingswette oortree indien hy weier om sy bron bekend te maak. “Solank as wat hy weier om die identiteit van hierdie persoon aan die polisie bekend te maak, sal die polisie hom aanspreeklik hou en is hy dus die primêre verdagte,” het Charamba gesê. “Dit is ʼn baie dringende en ernstige saak wat ʼn invloed kan hê op die verkiesingsproses en kan dus nie uitgestel word nie.”

“Niemand kan ontken dat dit ware stembriewe is nie of die stembriewe in die asblik gevind is nie, maar nou wil hulle die fluitjieblaser hê,” het Chamisa van die MDC gesê. Hy beskuldig ZEC van ʼn heksejag in plaas daarvan om die kwessie van die stembriewe wat weggegooi is, aan te spreek.

Die ontdekking het vrese van knoeiery met die verkiesing, wat Tsvangirai die afgelope paar dae geopper het, aangevuur. Maar Mugabe het Tsvangirai as ʼn “huilende baba” beskryf en onderneem dat die verkiesing wettig sal wees. “Dit gaan vry en regverdig wees. Ons dwing niemand om diekant toe of daaikant toe te stem nie,” het Mugabe gesê.

Die verkiesing vind Woensdag in Zimbabwe plaas waar die kiesers vir ʼn nuwe president en parlement kan stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melissa ·

Daai arme mense! Flippen hel, Mugabe is siniel! Ons almal weet dit is nie ‘n regverdige verkiesing nie. Wanneer kry hy wat na sy kant toe kom? Hy het daai land heeltemal in die afgrond inbestuur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.