Zimbabwe betaal strafbevel; veiling opgeskort

hofhamertjie-2-320x264Die veiling van ’n huis in Salisburyweg 28 in Kenilworth, Kaapstad wat Maandag om 10:00 sou plaasvind, is Sondag opgeskort nadat die Zimbabwiese regering Vrydag inderhaas voldoen het aan ’n bestraffende kostebevel van die Tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Die bedrag van die bestraffende kostebevel wat deur die Tribunaal teen Zimbabwe toegestaan is, is Vrydag op die trustrekening van AfriForum se regsverteenwoordigers, Hurter Spies Ingelyf inbetaal.

Zimbabwe het ten alle koste probeer om aanspreeklikheid kragtens die bevel van die SAOG-tribunaal vry te spring, maar is deur ’n regsproses wat deur AfriForum gedryf is, daartoe gedwing. Hoewel die bestraffende kostebevel slegs ’n druppel in die emmer is van die totale skade wat Zimbabwe se president, Robert Mugabe se grondgrypprogram aan wit boere in Zimbabwe wat van hulle eienaarskap ontneem is, aangerig is, het die boere nou gewys dat dit moontlik is om deur regsprosesse druk op die Zimbabwiese regering toe te pas om die skade wat aangerig is reg te stel.

Die gedeeltelike voldoening deur Zimbabwe aan die bevel van die Tribunaal is die hoogtepunt van ’n vier jaar lange regstryd waarmee AfriForum Zimbabwiese boere bygestaan het om deur middel van Suid-Afrikaanse regsprosesse druk op die bewind van Mugabe toe te pas om af te sien van sy onwettige grondgrypprogram. Die weg is nou berei om deur voortgesette regsprosesse druk op Zimbabwe toe te pas om boere te vergoed vir die ontneming van hulle eiendomsreg op hulle plase.

Die Konstitusionele Hof het op 27 Junie vanjaar eenparig ten gunste van Zimbabwiese boere beslis wat ’n bevinding van die Tribunaal, waarin ’n bejaarde boer van Zimbabwe, mnr. Mike Campbell en 77 ander boere suksesvol teen Mugabe in die Tribunaal gelitigeer het. Die Tribunaal het in November 2008 beslis dat Mugabe se grondgryprogram onwettig en rassisties is. In Junie 2009 het die Tribunaal ’n bestraffende kostebevel teen die regering van Zimbabwe uitgereik omdat Zimbabwe geweier het om gehoor te gee aan die bevinding van die Tribunaal.

AfriForum het die boere bygestaan om die bevindinge van die Tribunaal in Suid-Afrika te laat registreer en af te dwing nadat Zimbabwiese howe geweier het om dit te doen. Na die suksesvolle registrasie van die Tribunaal-bevel in die Noord-Gautengse hooggeregshof het die boere, bygestaan deur AfriForum se regspan, beslag gelê op eiendomme van die Zimbabwiese regering in Kaapstad. Die eiendom in Salisburyweg was deur huurders beset wat dit ’n kommersiële eiendom gemaak het wat nie beskerm is deur diplomatieke immuniteit nie. Zimbabwe het probeer om die proses in die Hooggeregshof, die Hoogste Hof van Appèl en uiteindelik in die Konstitusionele Hof om te draai, maar het telkens misluk.

“Die betaling van die bestraffende kostebevel is ’n deurbraak vir geregtigheid in die streek. Dis slegs die eerste stap in ons stryd om geregtigheid vir Zimbabwiese boere te bewerkstelling. Daardie stryd om geregtigheid sal voortduur,” het Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

vuurvreter ·

Jasper het ons nie genoeg gemors in S.A nie. Nou bring hulle nog lorry vragte vol nikswerd note hierheen. Toema die townships kort hoeka toilet papier lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.