Zimbabwe-eiendom in Kaapstad dalk Maandag opgeveil

hofhamertjie-2-320x264Na die marathon-litigasieproses namens Zimbabwiese boere teen die Regering van Zimbabwe in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria, die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein en die Konstitusionele Hof, is die veiling van ʼn Zimbabwiese huis in Kenilworth, Kaapstad nou geskeduleer vir eerskomende Maandag, 16 September 2013 in Kaapstad.

Dit sal die hoogtepunt wees van ’n vier jaar lange regstryd waarmee AfriForum Zimbabwiese boere bygestaan het om deur middel van Suid-Afrikaanse regsprosesse druk op die bewind van Robert Mugabe toe te pas om af te sien van sy onwettige grondgrypprogram. Die Konstitusionele Hof het op 27 Junie vanjaar eenparig ten gunste van Zimbabwe-boere beslis, wat ’n bevinding van die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap ten gunste van ’n bejaarde boer van Zimbabwe, mnr. Mike Campbell, en 77 ander boere ʼn bevel van die hof gemaak het.

Die tribunaal het in November 2008 beslis dat Mugabe se grondgrypprogram onwettig en rassisties is. In Junie 2009 het die tribunaal ’n bestraffende kostebevel teen die regering van Zimbabwe uitgereik omdat Zimbabwe geweier het om gehoor te gee aan die bevinding van die tribunaal.

AfriForum het die boere bygestaan om die bevindings van die tribunaal in Suid-Afrika te laat registreer en af te dwing nadat Zimbabwiese howe geweier het om dit te doen. Ná die suksesvolle registrasie van die tribunaalbevel in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria is daar beslag gelê op eiendomme van die Zimbabwiese regering in Kaapstad. Die eiendom in Salisburyweg 28, Kenilworth is deur huurders beset, wat dit ’n kommersiële eiendom gemaak het wat nie beskerm is deur diplomatieke immuniteit nie. Zimbabwe het probeer om die proses in die Hooggeregshof, die Hoogste Hof van Appèl en uiteindelik in die Konstitusionele Hof om te keer, maar het telkens misluk.

Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het Zimbabwe se prokureurs intussen by hom begin navraag doen oor die bedrag van die bestraffende kostebevel wat deur die SAOG-tribunaal teen hulle toegestaan is. “As hulle dit betaal, het ons daarin geslaag om Zimbabwe ten minste gedeeltelik te laat voldoen aan die bevinding van die tribunaal, wat hulle tot dusver geweier het. As hulle dit nie betaal nie, dan veil ons die huis Maandag op. Dit sal die eerste keer wees dat ‘n staat wat menseregtevergrype pleeg, se bates in ‘n buurstaat opgeveil word, wat ʼn belangrike presedent skep”, het Spies gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jasper ·

Mooi man. Hoop nie hulle betaal in Zim Dollar nie, ons sit alreeds met n vullis probleem.

Nico Kruger ·

Dit wil voorkom of ons regters en ons president nie dieselfde voel oor ons buurland se president nie. En ek aanvaar al daardie regters is deur die regering aangestel. Iewers is daar iemand in SA wat besef wat regtig daar aangaan.

cecilia ·

Mooi man.Afriforum word asb ons nuwe regerende party.SA sal baie beter daarna uitsien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.