Zola Budd gaan die Comrades hardloop

Zola Budd, 2012

Een van die beste atlete wat Suid-Afrika ooit opgelewer het en voormalige wêreld landloopkampioen, Zola Budd, het haar deelname aan die Comrades Marathon van Pietermaritzburg na Durban op 3 Junie, bevestig.

Budd, wat daarvoor bekend is dat sy kaalvoet hardloop, het die wêreld gaande gehad toe sy in 1984 die 5 000m wêreldrekord gebreek het. Dit was nie die enigste rekord wat sy daardie dag verbreek het nie; sy was maar 17 jaar oud – die jongste ooit om die rekord te hou. “Ek kan nie myself regtig ʼn Suid-Afrikaanse langafstandatleet wil noem as ek nog nie die Comrades gehardloop het nie en dit is een ultramarathon wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie,” het Budd Woensdag gesê.

“Ek is baie opgewonde om weer terug te wees by die huis en om vir die volgende paar maande weer op Suid-Afrikaanse grond te kan hardloop. Ek hardloop komende naweek ʼn half-marathon en sal weer Paasnaweek terug wees vir die Two Oceans marathon as deel van my oefenprogram vir die Comrades.

“Bruce Fordyce, wat die Comrades nege keer gewen het, help my om voor te berei, so ek is in goeie hande,” het sy gesê.

Die rekord is later van Budd ontneem aangesien dit in Suid-Afrika opgestel is. In daardie stadium was Suid-Afrika weens apartheid deur die Internasionale Amateur Atletiese Federasie (IAAF) verban. Budd het kort daarna weer die rekord gebreek, dié keer in Brittanje. Dié atleet van Bloemfontein het haarself skielik midde-in ʼn politieke orkaan bevind en verskeie politici wou haar keer om deel te neem.

Zola Budd, 1984

Die storm het egter nie gaan lê nie. Nadat sy haar Britse paspoort ontvang het, kon sy in 1984 aan die Olimpiese Spele in Los Angeles deelneem. In ʼn omstrede voorval het sy en Mary Decker, wat die gunsteling vir die 3 000m wedloop was, teen mekaar vasgehardloop en Decker moes weens die voorval onttrek.

Ten spyte van al die druk het Budd die wêreld landloopkampioenskappe in 1985 en weer in 1986 losgeslaag. “Ek het altyd gedink dit sou baie erg wees om die Comrades te hardloop, maar ek weet dat die duisende drawwers en die ondersteuning langs die roete my sal aanmoedig totdat ek oor die eindstreep is,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.