
Die galgkamer van die sentrale gevangenis in Pretoria is amptelik deur pres. Jacob Zuma as museum geopen. Links op die foto is die voormalige laksman Andries Storm. Foto: GCIS/SAPA
Zuma het die uitlatings gemaak tydens ʼn geleentheid waar die galgkamer van die Pretoria Sentraal gevangenis amptelik as ‘n museum geopen is. Die museum is ter nagedagtenis aan die 134 politieke gevangenes wat tydens die apartheidsera daar tereggestel is. “Ek dink nie daar is geregtigheid in die doodmaak van ʼn ander persoon nie,” het Zuma tydens die bekendstelling gesê. Zuma sê diegene wat pleit dat die doodstraf teruggebring moet word weet nie hoe dit voel om in die dodesel te wees nie. Hy sê Suid-Afrika het nie nodig om mense dood te maak om te bewys dat misdaad verkeerd is nie. “Ons kan steeds hard op misdaad wees sonder om mense tereg te stel. Ons polisie sal voortgaan om effektiewe metodes te gebruik om ons gemeenskappe veiliger te maak,” het Zuma gesê. Die galgkamer by die gevangenis is in 1996 uitmekaar gehaal. Zuma is deur verskeie ministers en ANC-leiers vergesel. Die museum sal volgende jaar geopen word.