Zuma-geldsake ‘het niks met niemand te doen’

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die ANC wou nie kommentaar lewer oor ʼn berig in die Mail & Guardian wat beweer dat president Jacob Zuma groot skuld aangegaan het en geld van verskeie hooggeplaastes, waaronder oud-president Nelson Mandela, gekry het nie.

“Ons as ʼn organisasie kan nie oor ʼn private aangeleentheid kommentaar lewer nie. Dit het niks met niemand te doen nie,” het Keith Khoza, ANC-woordvoerder, gesê. Die Jong Kommuniste Liga het intussen gesê die artikel bestaan uit “herverpakte” skinderstories en maak gebruik van “ou streke” om Zuma te diskrediteer voor die ANC se verkiesingskonferensie in Mangaung. Die Mail & Guardian het Vrydag berig oor ʼn verslag wat die ouditeursfirma KPMG destyds vir die Skerpioene opgestel het rakende Zuma se geldsake. Volgens die verslag het oud-president Mandela destyds vir Zuma R1 miljoen gegee kort nadat hy as adjunk-president afgedank is. Zuma het glo ook gereeld oortrokke bankrekenings gehad en het glo groot skuld aangegaan vir onder meer motors en eiendom sonder om te besin oor waar die geld daarvoor vandaan sou kom. Daar is ook berig hoe verskeie groot banke aangehou het om vir Zuma geld te leen al het hy versuim om lenings en verbande terug te betaal. Verskeie sakemanne het glo ook vir Zuma geld gegee om sy skuld te betaal.

Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, kon nie vir kommentaar bereik word nie aangesien hy saam met Zuma in die buiteland is. Volgens die presidensie kan slegs Maharaj hierop kommentaar lewer. Nic Dawes, redakteur van die Mail & Guardian, sê die koerant het die artikel gepubliseer sonder om kommentaar van Zuma en ander wat in die artikel genoem word te kry, aangesien hulle bang was die plasing van die artikel verhoed sou word indien hulle dit gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.