Zuma glo nie betrokke by Gupta-landing

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma en sy kabinet was glo glad nie betrokke in die landing van die Gupta-vliegtuig by Waterkloof-lugmagbasis nie.

“Die hoof van staatprotokol, ambassadeur Bruce Koloane, wat met verpligte verlof was, het ‘n verklaring ingedien wat ‘n verduideliking bied oor alle partye wat by die landing op 29 April van die privaatvliegtuig van die Gupta-familie betrokke was,” het Jeff Radebe, minister van justisie, Sondag gesê. “Daarom kan ons met oortuiging sê dat geen minister in die kwessie betrokke was nie. Die president was nie betrokke nie.”

“In elk geval is die president nie betrokke om goedkeuring te verleen vir die landing van ‘n vliegtuig by enige lugmagbasis nie. Dit val onder die departement van verdediging, veral die lugbeheer by die basis.”

Daar was 270 huweliksgaste aan boord die vliegtuig wat deur die Gupta-familie gehuur is. Gaste het die huwelikseremonie van Vega Gupta (23) en Indies-gebore Aakash Jahajgarhia by Sun City bygewoon. Die landing het groot opspraak gewek.

Die regering het ‘n ondersoek van stapel gestuur om te bepaal of daar enige breuk was van diplomatieke protokol. Radebe het die voorlopinge bevindinge van dié ondersoek bekendgemaak.

Een van die bevindings was dat die landing van ‘n privaatvliegtuig die direkte gevolg was van ‘n manipulasie van prosesse en dat bekende name “gebruik” is. “Wie se naam is gebruik? Dit was nie een naam nie, dit was verskeie name. Die minister van verdediging [Nosiviwe Mapisa-Nqakula] se naam is gebruik. Die minister van vervoer [Ben Martins] se naam is ook gebruik. Die president se naam is ook gebruik,” het Radebe gesê.

Die betrokke ministers het ‘n beroep gedoen op hul direkteure-generaal om dringend op die verslag se voorstelle te reageer.

Radebe sê die regering, wat deur die staatsdiens en administratiewe departement gelei word, moet ‘n staatsdiensbewusmakingsveldtog ontwikkel en implementeer om die “negatiewe kultuur om name te gebruik” te ontmoedig. “Die definisie van wangedrag moet regoor die regering aangepas word om seker te maak dat die misbruik van name as growwe wangedrag beskou kan word.”

Betrokke departemente word vereis om hul eie ondersoeke so gou as moontlik af te handel en om seker te maak dat tugstappe gedoen word waar nodig.

Verskeie sake is reeds by die Sun City-polisiestasie in Noordwes aangemeld. Die klagtes is die oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, die Nasionale Verkeerswet en die Wet op die Regulering van Privaatsekuriteit. ‘n Saak van oortreding van die Wet op Suid-Afrikaanse Polisie is by Lyttelton-polisiestasie in Gauteng aanhangig gemaak.

Radebe sê die vliegtuig het goedkeuring ontvang om te land en die korrekte goedkeuringsprosedures is gevolg. Dit was egter gebaseer op valse inligting en die misbruik van voorregte, deur ‘n groep wat met een doel voor oë opgetree het. Dit sluit glo Koloane in, wat bestaande diplomatieke protokol oortree het, en lt.kol. C Anderson, hoof van bewegingsbeheer by Waterkloof. Agt beamptes van die Tshwane metropolisie is geskors omdat hulle na bewering die Gupta-gaste van Waterkloof na Sun City begelei en nie-amptelike sekuriteit gebied het.

Radebe sê hy is nie bewus daarvan dat Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, haar eie ondersoek van stapel gestuur het nie.

Die volledige verslag sal na verwagting deur die loop van volgende week bekendgemaak word.

-SAPA

Lees ook:
Gupta-sage: Verslag gaan in parlementêre debat bespreek word
Gupta-uitnodiging opgeblaas
ANC: Gupta-debat gaan nie oor Zuma
Gupta-sage: Agt metropolisie amptelik geskors
Gupta-sage: Indiese Hoë Kommissie bevestig toestemming
Weermag het toe glo toestemming gegee vir Gupta-landing
Gupta-sage: Metropolisielede terug by die werk
Gupta-sage: Familie vra om verskoning, verwelkom ondersoek
Guptas-troue: Hotelgroep ontken “rassisme”
Zuma verwelkom Gupta-ondersoek
Gupta-familie kan dalk ondersoek word
Gupta-fiasko: Nog vier hoës geskors
Gupta: “SA moet dankbaar wees”
Guptas wil glo net wit werkers hê
Gupta-vliegtuig geskuif
Hoë geskors oor Gupta-fiasko
Doeanebeamptes glo nie by Gupta-landing
Foto’s: DA wil Gupta-vervoerreëlings ondersoek
Gupta-troue: SANW glo onbewus van Waterkloof LMB-toestemming
Gupta-gaste mag by Waterkloof LMB land
Guptas reël “bruilof van die eeu”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

En die ANC wil regtig he ons moet hulle glo!!
Ek wonde rmaar net hoeveel ambassadeur Bruce Koalane en die ander op wie die blaam nou gele word, betaal is om die blaam te vat en die ANC, veral die president, vry te spreek.
Wat sal die spul nog doen om ou Zuma te beskerm??

Christo ·

In enige groot organisasie hardloop senior personeel nie met elke versoek of probleem na die Groot Indoena toe nie, hulle is in die senior posisies omdat hulle weet hoe die Groot Indoena se kop werk en omdat hulle ten nouste vertroud is met die kultuur van die organisasie. Hulle weet dus watter besluite van hulle verwag word, sonder om eers navraag te doen.
Al het Japie nie direk toestemming gegee nie, is hy wel ten volle daarvoor verantwoordelik dat daar ‘n kultuur van bedrog en omkopery in die staatsdiens bestaan. Ongelukkig het ons ministers en hul meelopers nie dieselfde etiese standaarde as hul oorsese eweknieë nie. Hier by ons aanvaar die minister géén verantwoordelikheid vir wat sy / haar department gebeur nie. Hulle is slegs die minister wat betref die deel in die soustrein, die dept is amptenare se verantwoordelikheid.

H J Bester ·

Jeff Redebe en sy ANC-regering kan nou met allerhande truuks vorendag kom om Zuma te verontskuldig aan die landing van die Gupta’s se vliegtuig te Waterkloof, maar sal hulle nie daarin slaag om die meerderheid kundiges in die land en die wêreld te oortuig nie.

Hoe was dit moontlik om die landing met alle betrokkenes te finaliseer, paspoort- en internasionale toegangsbeheer by die lughawe in plek te hê asook vervoer en verkeersbeheer vir die rit na Sun City te reël as geen minister in die Zuma-kabinet kamma nie daarvan geweet het nie – dis mos ‘n infame leuen en getuig daarvan dat die ANC-regering nie in beheer van die land is nie.

‘n Onafhanklike ondersoek sal die korrekte feite aan die lig bring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.