“Zuma het ‘n verband,” sê presidensie

Zuma se Nkandla-woning

Die presidensie het Dinsdag bevestig dat president Jacob Zuma ʼn verband op sy woning in Nkandla, KwaZulu-Natal, het.

“Ons bevestig dat president Zuma ʼn verband by een van die nasionale banke het en dat hy dit steeds maandeliks afbetaal,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, gesê. Die presidensie het gesê hy neem kennis dat sekere mediaberigte impliseer dat Zuma die Nasionale Vergadering hieroor mislei het. “Ons doen ʼn beroep op die media om die agentskappe wat die verskeie aspekte van die sekuriteitsverbeteringe ondersoek, te respekteer. Spekulasie en gerugte sal nie die proses aanhelp nie,” het Maharaj gesê.

Die City Press het Sondag berig dat daar geen verband op die woning registreer is nie. Die koerant beweer dat die erf waarop die huis gebou is, deur koning Goodwill Zwelithini se Ingonyama Trust besit word. Die koerant het verder berig dat die Trust 32% van alle grond in KwaZulu-Natal namens die Staat en tot voordeel van sy bewoners bestuur.

Zuma het Donderdag aan die parlement gesê dat hy steeds ʼn verband op die woning afbetaal. “Ek het besluit om by my huis aan te bou en ek het meer rondawels bygevoeg. En ek het ʼn heining rondom my huis laat opsit. En ek het met die bank in verbinding getree, en ek betaal steeds ʼn verband op die eerste fase van my huis,” het Zuma gesê.

Die City Press kon nog nie openbare rekords opspoor wat Zuma se bewering, dat daar ʼn verband op die huis afbetaal word, staaf nie. Die akte vir die eiendom dui daarop dat Ingonyama Trust die eienaar is.

Belinda Benson, eiendomsbestuurder van die Ingonyama Trust, het aan die koerant gesê dat die aktekantoor se rekords vir Zuma se huis is. Volgens Benson is sy nie bewus van ʼn verband wat teen die eiendom geregistreer is nie. “Oor daardie spesifieke deel, soos wat dit nou staan, is daar nie ʼn verband nie,” het Benson glo gesê. “Of dit al geregistreer is en of dit nog in die proses is om geregistreer te word, en of die president besluit het om ʼn verband teen ʼn ander eiendom te registreer, weet ons nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.