Zuma-huis: ‘Opgraderings is nodig’

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, moet voor die parlement kom verantwoording doen vir die geld wat spandeer is vir die opgradering van president Jacob Zuma se huis in Nkandla, het die DA Dinsdag gesê.

Anchen Dreyer, DA-LP, sê Nxesi moet ook verduidelik hoekom sy departement glo ʼn ondersoek aangevra het oor hoe die City Press bewyse in die hande gekry het rakende die opgraderings. City Press het Sondag berig dat belastingbetalers nagenoeg R203 miljoen gaan moet opdok vir opgraderings aan Zuma se huis in Nkandla, KwaZulu-Natal. Dreyer sê ʼn ondersoek na hoe die koerant “onwettiglik” die inligting bekom het, is ʼn “klassieke geval van skiet die boodskapper.” Dreyer sê die minister moet gevra word hoekom die geld spandeer word wanneer daar verskeie bestaande presidensiële wonings is wat gebruik kan word. Die DA het ook vroeër die openbare beskermer versoek om die saak te ondersoek.

Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, sê die president se Nkandla-huis moet opgradeer word vir beide sy personeel en besoekers. “Wat doen jy as president Barack Obama of ʼn Afrikahoof hom besoek? Jy kan hulle nie na ʼn hotel toe stuur nie,” is Maharaj in The Telegraph in Brittanje aangehaal. “Waar bly eersteminister Cameron se veiligheidspersoneel wanner hy by sy private woning tuisgaan? President Zuma se mediese- en veiligheidspersoneel bly in die kompleks, maar jy kan hulle nie in dieselfde huis as sy gesin sit nie.” Maharaj sê in beginsel kan daar nie van Zuma verwag word om uit sy eie sak vir akkommodasie vir veiligheidspersoneel en gaste te betaal nie. Karima Brown, ʼn politieke kommentator, sê die onbevestigde berigte is net nog ʼn voorbeeld van hoe die media vir Zuma teiken. “Sy bestaan daag die idee uit van wat dit beteken om swart en middelklas te wees in Suid-Afrika, en hulle sal enige geleentheid gebruik om hom aan te val.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.