“Zuma kan nie lees nie,” spot Malema

Julius Malema Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, geskorste ANC-jeugligaleier, het Vrydag gedreig om besonderhede oor ‘n sameswering deur sekere regeringsbeamptes bekend te maak.

“Adv. [Nomgcobo] Jiba [hoof van die NPA], Jeff Radebe [minister van justisie], Nathi Mthethwa [minister van polisie], Maite Nkoana-Mashabane [minister van internasionale betrekkinge] en Ria Phiyega [nasionale kommissaris van die polisie], het vergader waar hulle ‘n plan beraam het om my in hegtenis te neem,” het hy aan sy ondersteuners buite die hooggeregshof in Polokwane gesê.

Malema het Vrydag saam met vier sakevennote op aanklagte van bedrog, geldwassery en swendelary verskyn.

“Die doel van die vergadering was om my uit die politiek te verwyder,” het Malema aan die skare gesê.

Hy is van plan om hierdie “sameswering” in die hof te bewys.
Die skare het Donderdagaand ‘n nagwaak vir Malema buite die hof gehou.

Malema het ook gesê adjunk-president Kgalema Motlanthe moet by die ANC se nasionale verkiesingskonferensie in Mangaung in Desember tot ANC-president verkies word. “As ons in Mangaung faal, dan faal ons Suid-Afrika, ons faal Afrika, ons faal die mense en ons faal die mensdom… [Jacob] Zuma bly ‘n verkeerde president. Selfs al bring julle meer aanklagte, julle kan soveel aanklagte bring soos julle wil, sal dit nie die feit verander dat ons ‘n president het wat nie kan lees nie,” het Malema onder ‘n gejuig van die skare gesê.

Die verhoor is tot 23 April 2013 uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.